-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Nou die oggend vroeg kom Servaas om die hoek gestap en laat sy lenige lyf in een stoel op die stoep ingly.
“As jy so vroeg in die oggend by my opdaag beteken dit net een ding – jou vrou het jou onder haar voete uitgejaag,” groet ek hom.
Hy gee so ligte snorkie: “Jy maak ook of jy alles weet. My aller-enigste het my g’n weggejaag nie, ek het sommer self die pad gevat en geloop.”
“Ja,” sê ek, “jy kan my niks vertel nie. Jy het weer niks konstruktief gedoen nie en soos ’n vet, geel puisie uitgestaan. Sy het jou weggejaag man, ek weet.”
Servaas kom skielik heeltemal regop in die stoel en sy oë blink: “Nou dat jy praat van uitstaan soos ’n geel puisie, laat ek jou iets vertel.
“Ek en my enigste-kampmaat het ook mos aan die begin, soos Herman, ’n tweeman tentjie aangeskaf. Ons het die ding gekoop en vol bravade Kaap toe gery. Ons het die hele wêreld rond getoer en elke aand die tentjie op ’n ander plek opgeslaan.
“Een middag kom ons so teen drie uur by ’n pragtige groot karavaankamp aan. Ons betaal ons belasting, soek ’n lekker plek en slaan ons tentjie op.
“Ek het soos altyd ons opvoustoele uitgehaal en dit ewe spoggerig voor die tentjie gesit. Ek skink vir ons ’n dop en ek en my mooiste-drinkmaat sit rustig en suig aan die nektar van die gode.
“Toe gebeur dit.” Hy leun effe terug en bly stil.
Nou’t hy my volle belangstelling: “Ja, toe gebeur wat?
“Die een karavaan na die ander begin by daai kamp se hek intrek. Dis net Jurgense, Sprites, Gypseys, eenas, tweeasse, 4x4’s, de lot.”
“Hulle trek die waens die hele kamp vol en toe ek sien die waens begin al hoe nader aan ons plekkie kom, gryp ek my mooiste der mooiste aan die hand en ons laat waai sommer so met die pad langs.
“Later is die hele kamp vol en dis toe ons so verby die een karavaan stap wat ek hoor hoe die manne praat van die reuse karavaan saamtrek wat by die kamp gehou word. Toe weet ons wat soek al die karavane daar.
“Teen daai tyd het die karavane rondom ons gestaan. Stel jou voor. Hier staan ons tentjie met twee opvoustoele op ’n reuse staanplek en rondom dit die karavane met hulle rallytente of vol tente met nog ’n gazebo of twee en by ander selfs nog ’n ekstra tent ook nog.
“Ek en my enigste-blond loop toe ook maar later verby ons tentjie en maak of ons nie weet wie s’n dit is nie. Ons loop toe tot by die klein riviertjie wat deur die kamp loop en daar het ons gesit tot dit donker was. Toe sluip ons hand-aan hand terug tot by ons tentjie.
“Ons is saggies daar in. Sonder ’n woord het ons in ons slaapsakke gekruip en met hongerpyne wat knaag, gaan slaap. Ons het douvoordag opgestaan, ons tentjie en stoele opgepak en toe die karavaanmense nog dink hulle staan op, toe is ons daar weg. Ek dink hulle het ons leë staanplek daai naweek as bymekaarkomplek gebruik.”
Ek kyk na hom: “Ja en eintlik was dit niks om oor skaam te voel nie.”
Servaas knik instemmend: “Ja, maar
daaroor praat ons mos nie.”
0 Comments