<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Piet-my-vrou, skiet-my-nou!

 
Rubrieke / Columns : 28 Aug 2014 470 Viewed By Carina Stander 0

Mense dink mos ek is so vol natuurliefde dat ek my met vars modder grimeer en die wensbene van knaagdiertjies (slegs dié wat ‘n natuurlike dood gesterf het) deur my neus ryg om my profiel te verfraai. Woudvrou! roep een koerantman my. Bosnimf! skryf ‘n ander digter in ‘n brief. In g’n resensie of onderhoud word die kans verbeur om te wys op “haar aartsmistiek” of “die suiwer natuur as leidmotief in haar werk” nie.
Als goed en wel. Ek red spinnekoppe en bang nie juis slange nie, maar wanneer ‘n sekere voëlspesie my drie uur in die more uit die bed boender, maak dit die jagter in my wakker.
Dis elke lente dieselfde storie: die verpestelike Piet-my-vrou kom hakkel in die stikdonker nag by my kamervenster. Piet-my-vrou. Skiet-my-nou. Die skuldige is ‘n mannetjie wat glo sy eiers voorsê presies wanneer hulle moet uitbroei. Dag en nag moedig hy sy verwagte kuikentjies aan, sy welluidende stemmetjie al hees.
In ons verbrokkelde samelewing behoort sulke toegewyde vaderskap my seker tot halleluja’s te stem, maar daar is ‘n klaaglied in my hart.
Oorpluisies kan ek nie dra nie, ingeval my eie seuntjieskind om middernag roep omdat hy sy slaaphaas verlê het. Was ek ‘n Boeddhis, sou ek smeek dat hierdie voël tot doofstom muggie gereïnkarneer word.
Was ek ‘n evolusionis, sou ek kon argumenteer dat Cuculus solitarius in alle waarskynlikheid die swakste skakel in die ketting is en daarom liefs van die evolusieleer af gestamp moet word, dankie.
As bioloog sou ek dié klip in die bos gooi: kom ons vang al 10 000 en eksperimenteer vir ‘n nuwe middel teen voëlgriep! Eureka! Maar goeie Christenkind wat ek is, laat dit my met ‘n enkele opsie. Om te bid. Opreg te bid. Hiermee dan my gebede soos die aand vorder:
23:00: “Laat sy ou kleintjies tog spoedig uitbroei dat hy net sy snawel kan hou.” (Dit vra ek met ‘n swaar hart, wetend dat daar volgende jaar vyf Piet-my-vroue voor my venster kan nesmaak.)
24:00: “Mag hierdie voël met sy goeie vaderhart na ‘n hemelse woning verhuis.”
2:30: “‘n Vinnige dood, asseblief. Laat hom verstik aan ‘n mot.”
3:00: “Kan ‘n uil hom nou vang en klaarkry?”
3:30: “Mag elke
vervloekte slang en likkewaan, elke
kruipende of vlieënde vyand nou uit hulle gate kruip en hom en sy hele nageslag uitwis!”
Elke dag as ek sien hoe die suikerbekkies en Knysna loeries, die glasogies en rooibor-sies in die tuin rinkink, die vlinders en bye en krioelende erdwurms, blouape wat oor die dak wip, bosbokke en soms ‘n dwergmuishondjie wat kortpad vat, weet ek dat ek die aand met ‘n rein hart kan gaan slaap – totdat Piet-my-vrou my weer om middernag tot liederlike smeekgebede dryf!

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube