<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Komplimente, beledigings en kompliledigings

 
Rubrieke / Columns : 25 Sep 2014 245 Viewed By Carina Stander 0

Iets wat my baie binnepret verskaf, is versteekte grappies. Soos wanneer mense mekaar probeer slegsê en dit dan uitkom as 'n onbedoelde kompliment. (“Moet jy áltyd beter weet?” Of “Daai ou is so ryk, hy stink van die geld.”)
Maar dan is daar ook goedbedoelde komplimente wat soms 'n onbedoelde stekie het. Soos wanneer mense foto's van my op Facebook of elders sien, my dan vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet en ek dié verbaasde uitroep moet aanhoor: “Sjoe, Carina, maar jy lyk nie eintlik soos op die foto's nie, hoor. Jy is nogal... mmm... foto-genies.” Hoe nou gemaak? Sê mens baie dankie dat jy mooier lyk op kiekies as in die regte lewe? Agge wat, mense bedoel dit nie sleg nie, so ek lag alte lekker vir die watsenaam – kompliment of belediging? Kom ons noem dit sommer 'n komplilediging.
Kinders is meesters van onskuldige kompliledigings. Vanoggend kry ek weer 'n skitterende komplilediging by my peuterseuntjie, Ilan. Hy sit snoeselrig op my skoot, streel my hare en soen my wange.
"En hoekom is ek so gelukkig om so baie liefde by jou te kry?" vra ek retories. "My jou lief het hoekom jy so sag en wammer (warm) is," antwoord hy. Ek, stralend van geluk omdat dit blyk dat my winterspekkies tóg ouerskap waarde het: "Ai, so jy's darem bly dat jou mamma nie so maer soos 'n stokkie is nie, ne?"
Sonder om te blik of te bloos antwoord die klein karnallie: "Nee. My jou lief het hoekom jou japon so sag en wammer is."
Toe Ilan 'n baba was, het hy eendag sy ouboet se hare gepluk. En daar gil Aden toe: "Sies, Ilan, sies! Jy maak so vlieslik (vreeslik en vieslik) met my, en ek was lief vir jou toe jy nog net 'n spikkeltjie op Mamma se eierstok was!"  Watter groter liefde is daar as die liefde vir 'n spikkeltjie?
My ma Truiki vertel graag 'n storie van 'n sekere naaldwerkonderwyseres by Hoërskool Ellisras wat een Maandagoggend in 19-toet al die dogters in die klas gedruip het. Sy kon immers op 'n afstand sien dat ál die ma's die naweek ingespring en die dogters se voorskote vir hulle gemaak het. Net een gelukkige meisie het volpunte gekry. Die middag ná skool vertel sy toe vir haar ma van die spogpunt.  “So, Juffrou dink darem jou voorskootjie lyk mooi?” wou die moeder glo baie in haar noppies weet, want al was sy nie juis vaardig met 'n naald en garing nie, het sy wel die naweek sukkel-sukkel haar kind se voorskoot aanmekaar gestik.
Die antwoord wat gevolg het, was pure komplilediging: “Nee, Juffrou het gesê my voorskoot trek skeef en die nate is slordig, maar sy sê sy kan sien ek is die enigste kind in die klas wat darem sélf probeer het om naaldwerk te doen!”
Een van my gunsteling komplilediging het gekom van Aden toe hy kort voor sy vyfde verjaardag vir my gesê het: "Weet jy, Mamma, ek dink jy's 'n kind wat maar net aanhou en aanhou verjaar."

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube