<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

“Dié meisiekind weet dan alles!”

 
Rubrieke / Columns : 16 Oct 2014 262 Viewed 0

Sommer met die groetslag sien ek die glinster in Servaas se oog en sy mondhoeke wat wil trek in ’n alles-oorheersende lag.
“Môre, Servie. Lyk my jy het weer vanoggend niks om te doen nie en nou kom doen jy dit by my,” groet ek.
“Dagsê mater. Nee, ek het net kom kyk hoe lyk ’n afgetredene 11 uur op ’n week oggend. Nou weet ek. Hy lyk nes ek en dit beteken ek en jy het nie in hierdie stadium enige koers wat ons wil vat nie.”
“Watse koers?” wil ek weet. “Mens loop nie verniet vroegoggend rond nie, Net as jy iewers het om heen te gaan.”
Servaas strek sy lang bene voor hom uit: “Ja en as jy iewers wil gaan, maar jy ken nie die regte adres nie, is ’n dingetjie so ’n GPS nogal handig.”
Nou verstaan ek niks. Wonder of die maat van my homself nie aan vroeë oggend pille oorgegee het nie, want hy klink nie heeltemal so lekker nie. “Hoe is jy nou met ’n GPS deurmekaar?”
Nou blink Servaas se hele gesig van opwinding. Hy vertel my toe hy het ’n GPS aangeskaf en omdat die vêrste wat ou Herman deesdae wil ry, net tot by sy voorhekkie is, laai hy hom nou die dag op toe hy voorwêreld toe ry.
Met die wegtrek klink die GPS se stem luid en duidelik: “Na 300m, draai regs.” Servaas laat sak ’n oomblik sy kop: “Ek dog Herman klim uit die bakkie uit toe die vrouestem praat. Sy twee oë rek so groot soos hulle kan en hy kyk met pure verbystering na die GPS.
“Servaas, hier’s ’n vroumens in die bakkie. Ek hoor haar, maar ek sien haar nie!”  Servaas sê toe sien hy sy kans. “Herman, dit is die GPS. Die vroumens daarin kan alles sien en hoor wat ons praat.” Servaas vertel Herman het met groot oë na hom gekyk en gefluister: “Wragtag nè. Sien en hoor sy alles?”
Teen die tyd nader hulle ’n T-aansluiting en die GPS se tannie sê: “Na 400m, draai links.” Dis toe Herman ewe kordaat regop sit, die GPS vierkantig in die oë kyk en sê: “Nee, dis reg, niggie. Regs draai sal ons regs draai.” Volgens Servaas was dit toe ’n hele ent wat hulle net reguit moes aanry met Herman wat soos ’n standbeeld langs hom sit met sy oë stip op die GPS gerig.
Servaas sê by die volgende kruising draai hy toe aspris links in plaas daarvan om reguit te ry. Dit was net ’n paar meter toe kom die vrouestem: “Draai om indien moontlik.” Hy sê verder Herman draai net sy oë so na sy kant toe sê: “Jy beter luister as sy praat, mens weet nie wat sy nog alles kan sien en sê nie.”
Servaas draai toe maar om en neem die regte pad. Hy vertel toe hulle by die eindpunt kom, klink die vrouestem op: “Bestemming bereik.”
Herman loer by die venter uit en sien dit is waar hulle wil wees. Hy kyk toe verstommend na Servaas: “Seg sy met ’n mond vol tanne.”
Servaas sê hy het maar later vir Herman vertel hoe werk ’n GPS.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube