<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kersfees – die mooiste, mooiste tyd

 
Rubrieke / Columns : 17 Dec 2014 185 Viewed 0

Dit is een van daardie bitter warm somerdae wanneer mens net die heeldag koelte soek, toe Herman se bakkie voor die deur rem aanslaan. Al twee deure gaan oop en hy en Servaas klim uit.
Eintlik klim net hy uit. Servaas gly uit. Hy draai eers dwars op die sitplek soos iemand wat lam is, gooi sy lang bene by die deur uit en gly as’t ware op sy boude by die deur uit. Moet sy lengte wees wat hom so by ’n kar of bakkie se deur laat uitgly.
Terwyl die twee na my toe aankom wonder ek hoe die lange Servaas op ’n karavaanbed pas. Ek sweer driekwart van hom hang of af of lê dwarsoor sy aller-saamslapende. Met hom en nog iemand oop een bed moet dit maar bars gaan om lekker te slaap. Seker ook die wat hy so in die nag in die kamp rondloop as hy kamp. Kan nie lekker slaap nie.
Op die stoep is dit einste Servaas wat net soos wat hy uit die bakkie uitgly, in die naaste stoel ingly. Ook so half boude eerste met die bene wat volg.
Herman daarenteen gaan sit ordentlik op die stoel. Maar as hy eers sy sit in ’n stoel gekry het, vat dit ’n bom of twee om hom sommer weer daar uit te kry. Hy staan nie sommer net op nie.
Servaas kom eerste met sy soort wysheid vorendag: “Weet julle wat, sou dit nie vir arme Josef en Maria baie gemakliker gewees het as hulle destyds ’n karavaan gehad het nie. Dink net,” hy skuif half regop toe die ‘briljante;’ opmerking van hom eintlik by hom posvat, “die twee kon rustig die pad gevat het Betlehem toe en dan was hulle slaapplek ook sommer byderhand.”
Ek kyk na Herman en hy kyk na my. Ons weet, Servaas is vandag weer by slim verby. Dis Herman wat eerste reageer: “Ja en met wat sou hulle daai karavaan getrek het?”
Servaas is egter baie slim: “Met daai einste donkie waarop sy gery het”. Net die gedagte daaraan laat ons lag. Stel jou voor – ’n Jurgens Penta met ’n donkie vooraan!Servaas se verbeelding hardloop nou weg: “Ja en dan hoef hulle nie eers petrol in te gooi nie, net so gerf of twee gras en donkie se kind pluk daai karavaantjie tot binne-in Betlehem. Ek meen, hulle moes nie bang gewees het om iets soos ’n karavaan te gebruik, sou dit daai tyd bestaan het nie, mens moet nooit bang wees om iets nuuts te probeer nie. Onthou amateurs het die ark gebou en ingenieurs die Titanic!”
Herman draai sy kop na Servaas toe: “Seg jy met ’n mond vol tanne”. Ek sien ek moet Servaas se teuels intrek.
“Dis oor die naderende Kersfees wat jy so vol slimpraatjies is. Sê nou dit was omgekeerd -  Josef en Maria met die Jurgens en jy vandag met die donkie. Hoe sou jy jou lang lyf op daai donkie gekry het?”
Servaas se oë vonkel: “Nee, daaroor praat ons mos nie”.
Ek kon dit gedink het: “Donkie of karavaan, ons mag nie vergeet watter grootse gebeurtenis is die geboorte van Jesus nie. Geseënde Kersfees en ’n kampvolle 2015 vir julle.” Servaas spring Herman voor: “Baie dankie en skryf sommer daar ons al drie sê ’n geseënde Kersfees en blink nuwe jaar aan al die lesers.”
Herman kry toe darem die laaste woord in: “Amen”.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube