<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

“Hêppie nuwe jaar”

 

Melt van der Spuy.

Rubrieke / Columns : 22 Jan 2015 126 Viewed By Melt van der Spuy 0

Die warmte lê swaar op mens hier waar ons drie professionele afgetredenes die warm ure van Januarie se somerhitte op my stoep trotseer. Dit is Servaas wat eerste die stilte verbreek: “Dit was darem Nuwejaarsdag vir jou ‘n gedoente in die kamp waar ons gestaan het. Van hulle wat nog doek dra tot hulle met een voet in die graf het die koms van die nuwe jaar behoorlik gevier.” Herman laat klap sy derde kasteeltjie se oor en so tussen die eerste slukke deur sê hy:
“Was daar iemand wat nou weer behoor-lik die dam onder die eende se boude uitgeruk het?” Servaas glimlag net effens: “Ons het met oujaarsdag so klomp saam-kampers bymekaar gesleep en besluit om die nuwe jaar in al sy glorie welkom te heet. Dit het beteken van die manne het sommer so met brekfis saam al die eerste kastele en klipdriwwe se doppies laat klap. Nie fout daarmee nie, maar toe daai 1 Januarie se son begin brand, toe weet van die manne die kastele, klipdriwwe en Johnnie met die kierie vra nou vergelding.
“Een so knaap het ek ou Duime gedoop want hy het die grootste paar hande wat ek nog gesien het. Ons maak toe almal saam elkeen sy eie vuur, maar bymekaar sodat elkeen sy eie kos kan maak.
“Ek loer later so met die een oog na Duime want dié se vuur is net so neffens my en ek sien die man maak potjie soos potjie seker nog nie op Oujaarsdag gemaak is nie.
“Later begin Duime bygooi dit wat nou moet bygegooi word. Dis ’n bietjie van die en ’n bietjie van daai. En al die pad sak die bottel klipdrif langs hom gevaarlik laag.
“Hoe meer die klipdrif sak, hoe meer gooi hy in die pot by. Hy praat ook al hoe meer met homself en is blykbaar gelukkig daaroor, want niemand praat teë nie.
“Later word ingeskep. Duime trek daar ’n bord so groot soos ’n sleepwa nader. Hy gebruik sommer ’n soplepel om dit wat in die pot is op sy “sleepwa” te kry.
”Die sous drup die wêreld vol en die kos loop omtrent uit sy bord uit. Intussen het sy aller-dierbaarste ’n opslaan skinkbord voor hom staangemaak en hy sit sy “sleepwa-bord” daarop. Toe gryp hy ’n vurk waarmee mens kan tuinmaak, steek hom lekker diep onder die kos in en druk daai oorlaaide stuk gereedskap in sy mond.
“Maters, toe hy daai eerste hap vat en die kos afsluk, is dit of Eskom sy ligte net daar afsit. Sy hand met die leë vurk bly halfpad tussen sy mond en die skinkbord staan. Sy oë word rond soos twee planete en ’n rooi gloed trek soos ’n veldbrand hier van sy nek af en vaar oor sy gesig sy kopvel in.
 “Hy hyg na asem soos ’n ou Fordsontrekker wat op ’n koue wintersoggend probeer vlamvat. Toe vlieg hy orent en met ‘n hygende ‘Hêppie nuwe jaar’ vat hy die pad toilet toe.
“Dis toe wat ek sien waar lê die fout. Onder al die botteltjies en dinge wat vroulief aangedra het, was ’n vol botteltjie tobasco sous en die klipdrif het gemaak dat daardie botteltjie dolleeg is. Alles in die pot gegooi.
Herman proes dit uit: “Ou Duime weet seker nou brandewyn het nie brieke nie.”
Servaas lag breed: “Daaroor praat ons mos nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube