<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nissan se 2015 Qashqai verras

 
Rubrieke / Columns : 29 Jan 2015 69 Viewed By Dirk Gallowitz 0

Nissan SA het Julie verlede jaar die tweede generasie van sy baie gewilde Qashqai (uitgespreek: “Kaskai”)  nutsvoertuig plaaslik bekendgestel.
Met meer as 2-miljoen eenhede van die kompakte stoftrapper wêreldwyd verkoop sedert  2007, is dit voor die hand liggend dat daar groot verwagtinge gekoester word van die nuwe model in ‘n stram mark tussen tawwe kompetisie.
Die nuwe model se groot klem lê op verbeterde ontwerp, kwaliteit, luuksheid en natuurlik die jongste tegnologie. Hy is langer, wyer, laer maar ook ligter as sy voorganger danksy die Renault-Nissan Alliance CMF (Common Module Family) modulêre platform waarop gebou word.
Ons toetsmodel is die 2015 1.5dCi Acenta met ‘n 1.5-litre turboaangejaagde diesel enjin wat 81 kW @ 4 000 rpm en 260 Nm wringkrag lewer tussen 1 750 and 2 500 rpm. Die ligter enjin loop nou stiller met minder vibrasie. Hierdie model trek deur die voorwiele via ‘n 6-spoed handratkas. Volgens Nissan bied die model klasleidende brandstofekonomie van slegs 4.2-liters per 100 km en ‘n CO2 syfer van 109 g/km  wat die 1.5dCi vrystel van enige groen belastings. Nissan se dieselenjins in die Qashqai benodig 50ppm diesel.
Buite lyk die nuwe Qashqai meer modern in voorkoms. Die neus word gedomineer deur ‘n Nissan V-sierrooster met herontwerpte hoofligte weerskante wat nou met LED dagliggies spog. Agter is daar ook groot nuwe ligte wat om die hoeke vou en ook LED komponente insluit.
Die hoër ryposisie en nuutontwerpte buffers dra by tot die avontuurlustige voorkoms van die nuwe Qashqai.   
Die kajuit wat sitplek aan vyf insittendes bied, is ook omvattend vernuwe met veral klem op gerief. Nissan het met die gebruik van kwaliteit materiale ‘n aangename en gerieflike plek aan insittendes daargestel vir ‘n genotvolle ry-ervaring. Binne is been-, kop- en skouerspasie vergroot asook die baggasie laairuimte wat met 20 liter tot 430 liter verruim is. Slaan jy egter die agterry sitplekke plat kry jy ‘n enorme 1585 liter se laaispasie.  
Die binneruim is gerieflik en omvattend toegerus. Die voorpaneel en instrumentasie lyk modern en is uitstekend afgewerk.
Ons toetsmodel was toegerus met die opsionele “Design Pack” en kom met allooiwiele, outomatiese ruitveërs, buitespieëls wat terugvou, verdonkerde glas en ‘n groot elektriese glas sondak asook klimaatbeheer, outomatiese kopligte en voorste misligte. Daarby is daar vloeikristal-dagryligte, Bluetooth, spoedbeheer, ’n volledige ritrekenaar, ’n baie goeie klankstelsel en selfs ’n volgrootte-noodwiel as standaard.
Die gemaklike sitplekke en aangename kajuit ambiaans het enige rit, op die snelweg, grondpaaie en selfs in druk stadsverkeer, ‘n aangename ervaring gemaak.
Die Nissan Qashqai soos getoets is beslis hoog op my lysie van gesinsmotors en ek kan die model met vrymoedigheid aanbeveel en is nie verras met die nominasie van die Nissan Qashqai 1.6DCI Acenta Auto as ’n finalis vir die titel 2015-WesBank/SAGMJ-Motor van die Jaar.
Die nuwe Nissan QASHQAI modelle kom standaard met Nissan se klasleidende  6-jaar/ 150 000 km waarborg en 5-jaar/ 90 000 km diensplan wat ook ‘n padbystanddiens insluit.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube