<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Hyundai vergroot ix35 met kleiner turbodiesel

 
Rubrieke / Columns : 06 Feb 2015 109 Viewed By Dirk Gallowitz 0

Hyundai het onlangs sy ix35 modelreeks in SA vergroot deur ‘n 1.7liter turbodiesel weergawe bekend te stel. Terwyl die ix35 reeds die topverkoper in sy marksegment is, wil Hyundai graag ‘n goedkoper en meer ekonomiese diesel ix35 aan kopers bied.
Met die nuwe kleiner diesel enjin kan voornemende kliente nou uit sewe ix35 modelle kies, waarvan drie diesel- en vier petrolenjins. Die jongste ix35 1.7 Premium se 1685cc turbodiesel bied 85 kW @ 4000rpm en 260 Nm wringkrag wat tussen 1250 en 2750rpm beskikbaar is. Brandstofverbruik volgens Hyundai is 6,5l/100km in ‘n gemengde siklus met ‘n emissie syfer van slegs 139g/km wat aan die streng Euro5 uitlaatgas standaarde voldoen.
Die ix35 1.7 Premium word vervaardig in Hyundai se moderne aanleg in Nosovice in die ooste van die Tseggiese Republiek, waar vier ander ix35 modelle ook vervaardig word.
Met dieselfde bak as die ander modelle wat vroeër vanjaar opgekikker is, lyk die nuwe model bykans identies as die ander modelle in die ix35 stal. Die oplettende oog sal sien dat die 17" allooiwiele op die nou in donkermetaalkleur (gun-metal) afgewerk is.  
Die kajuit is ook soortgelyk aan die ander modelle met die gemaklike sitplekke wat in ‘n mengsel van materiaal en leer oorgetrek is. Been- en kopruimte vir alle insittendes is prysenswaardig in sy klas terwyl die laairuimte boonop 591 liter se bagasie kan sluk. Toerustingsvlakke is hoog wat ‘n lang lys van tegnologiese en veiligheidtoerusting as standaard insluit.
Die ix35 1.7 Premium kom standaard toegerus met ‘n 160-watt AM/FM/CD/MP3 klankstelsel met 6 luidsprekers wat ook iPod®/USB skakeling bied. Al hierdie info word vertoon op ‘n 4,3” kleur raakskerm middel bo in die voorpaneel. Hierdie skerm vertoon ook die beelde van die tru-kamera wat deel is van die parkeerhulpstelsel. 'n Verstelbare stuurwiel met skakelaars vir die klank, telefoon en spoedbeheerstelsel asook lugversorging, elektriese vensters en kantspieëls is deel van standaardtoerusting.
Tydens die bekendstelling het ons die nuwe model op die teer en grondpaaie van die Boland beproef. Aandrywing is deur die voorwiele via ‘n heerlike nuwe verbeterde ses-gang handratkas (daar is nie ‘n outomatiese ratkas in die model beskikbaar nie) met effe ander ratios as sy groter 2.0 l dieselturbo stalmaat. Topspoed is 173 kpu en die 0-100kpu lopie neem 12,4 sekondes. Hantering is baie goed danksy die kombinasie van MacPherson-stutte voor en ‘n multi-koppeling agter met min bakrol as jy deur die draaie aanstoot. Die gladde rit selfs op die grondpadgedeeltes, is grootliks te danke aan die kombinasie van gasgevulde skokbrekers en kronkelvere op al die wiele.  
Die nuwe model kom ook met ’n 5-stêr Euro NCAP botstoets gradering en bied ‘n redelike omvattende lys van aktiewe en passiewe veiligheidstelsels waaronder lugsakke, ABS remme met elektroniese remverspreiding (EBD) en kindersitplek hegpunte.
Die nuwe ix35 1.7 turbodiesel Premium 6-gang handrat kos R 359 900-00 en kom standaard met Hyundai se 5-jaar/ 150 000 km waaarborg; 5-jaar/90 000 km diensplan en 5-jaar/150 000 km padbystanddiens.
Met die nuwe model het Hyundai ‘n wenner beet en is my keuse in die reeks.

 

 

 
 

Hyundai het onlangs sy ix35 modelreeks in SA vergroot deur ‘n 1.7liter turbodiesel weergawe bekend te stel

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube