<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Die Hollander en die blouaap

 
Rubrieke / Columns : 20 Feb 2015 146 Viewed By Melt van der Spuy 0

“Uitlanders,” Herman laat dié woord na ’n vloekwoord klink, hier waar ons drie professionele werkloses op my stoep elk ’n kasteeltjie leeg maak.
Servaas korrel na Herman se kant toe: “Wat het jy teen uitlanders?”
“Ek het niks teen uitlanders nie,” sê Herman, “dis net laas toe ek en ma in die willetuin was, was dit juis uitlanders wat vir groot pret gesorg het.
Hy sit half vorentoe in sy stoel: “Julle sien, ek en ma stap toe een aand so teen half skemer so wyle deur die kamp en kyk sommer wat doen elke ou by sy kampplek. So met die rondstap, sien ons op een staanplek een van hierdie groot lorries staan. Dis nou die goed wat toegebou is met groot vensters en sitplekke vir almal om lekker te sien.
“Dis gewoonlik uitlanders wat met sulke lorries rondry en ons staan effe nader om die gedoente ordentlik te bekyk. Die lorrie het ’n groot toegeboude sleepwa wat afgehaak is en so skuins agter die lorrie staan. Dis nou waar die mense slaap.
“Die sleepwa het sulke laaie in soos by Avbob se lykshuis en as dit slapenstyd raak, skuif die manne elkeen in sy laai in, trek ’n gordyntjie toe en hy slaap. Die geneuk is net dis mans en vrouens deurmekaar in so lorrie en sleepwa.
“Agter die slaaplaaie is ’n gang wat die deur die hele lengte van die wa loop met ’n deur aan elke kant. Elkeen wat uit sy laai kruip, land in die gang. Die gang staan ook vol drasakke vir die klere.
“Daar is toe juis een man met kaal bolyf besig om in die gang aan te trek. G’n toe deur of so iets nie.
“Wat niemand gesien het nie, is mnr. Blouaap wat in ’n boomtak naby die een deur van die sleepwa die spulletjie sit en dophou.
“Die man in die gang haal toe ’n groot lemoen uit ’n drasak. Dis net waarvoor Blouaap gewag het.
“Hy gee net een sprong toe land hy voor die man met die lemoen. Dié skrik so groot hy laat val die lemoen en duik vir ’n laai. Blouaap gryp die lemoen en toe hy weer by die deur wil uit, kruip man nommer twee uit sy laai, reg voor Blouaap in. Blouaap maak ’n ‘u-turn’ en mik vir die ander deur.
“Blouaap was net ’n tree of wat weg van die ander deur af, toe loer mev. Hollander uit haar laai uit en kyk in Blouaap vas.
“Mev. Hollander gee net een gil, spring in die gang en met een reuse sprong staan sy buite. Blouaap is agterna en in die naaste boom met lemoen en al.
“Al die ander Hollanders hoor die gedoente en bestorm die sleepwa. Mev. Hollander skreeu in ’n hoë stem van hoe die gedierte haar byna opgevreet het. Dis eers toe een barmhartige Hollandse Samaritaan ’n kleinerige truitjie oor haar skouers gooi, dat sy besef daar’s fout. Sy loer toe so na haarself en sien sy staan daar, oop en bloot vir die hele kamp om te sien, so kaal soos wat sy in die wêreld gekom het.”
Deur die lagbuie sê Servaas: “En dis maar moeilik om drie belangrike goed met net twee hande toe te maak.”
Herman gooi die laaste bietjie van die kasteeltjie in sy keel af: “Seg jy met ’n mond vol tanne.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube