-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ek sit nou die ander dag nog so lekker op my stoep en verlustig my daarin om geen haas te hê om by enige werkplek uit te kom nie, toe Servaas by die voorhekkie instap.
“Wat doen jy as jy en ma by die kampplek aankom?” vra hy.
“Ons slaan kamp op.”
Servaas glimlag so effens. “Sê my, hoe doen julle dit?”
Nou maak Servaas my deurmekaar.
“Hoe bedoel jy, hoe doen ons dit. Ons sit kamp op man. Ons gooi die grondnet uit, slaan tent op, kry stoele en tafels reg en al daai dinge.”
“Ja, maar dit doen julle eers nadat julle die belangrikste ding van kamp opsit gedoen het.”
“Hoe bedoel meneer nou?”
“Julle kry eers die regte plek om te staan,” kom dit triomfantlik van hom.
“Ja, ja. Wat wil jy nou eintlik sê?”
Servaas skuif vorentoe in sy stoel.
“Laat ek jou vertel wat ek en my aller-lekkerste-om-mee te kamp nou die naweek gesien het. Ons het gaan kamp en sit nog so lekker en ontspan, toe ry ’n Ford bakkie die kamp in en agter hom draf een van die nuwe groot Jurgense.
“Die spulletjie het net so 20m die kamp ingekom toe stop dit. Ma en pa klim uit. Saam begin die twee die pad opstap, opsoek na staanplek.
“As pa by die een plek instap om dié se goeie eienskappe te besing, trek ma al drie plekke verder die pad af. Dan moet pa hol om by te kom. As ma by ’n plek instap, stap pa saam in en die twee staan en beduie met die arms dat dit lyk of hulle verkeer reguleer. Daar word gekorrel na die son, pa stamp met die voet op die grond en daar word so onderlangs na buurman geloer. Pa beduie na die ablusieblok, maar ma skud die kop en daar trek die twee, verder aan.
“So stap en beduie hulle tot hulle elke oop staanplek besigtig het. Dan kom hulle al die pad terug terwyl pa na die een plek wys en ma na ’n ander.
“Dit stap by ons verby toe ma skielik vassteek. Sy wys na die plek skuins voor ons en stap dadelik tot daar. Pa loop haal die Ford. By die plek gekom, trek hy die Ford half skuins op die staanplek toe ma hand opsteek en hom keer. Sy praat met hom, beduie verder aan en daar gaan sy.
“Pa sit die spulletjie in trurat tot in die pad en volg ma. Drie plekke verder beduie sy hy moet intrek.
“Hy maak so en net toe hy in die middel van die plek kom, stop ma hom weer, beduie met swaaiende arms na die son en stap terug pad toe. Weer is dit trurat tot in die pad. Ma praat met pa, stap agter hom verby tot by die eerste uitgesoekte plek.
“Pa ry verder aan tot hy ’n oop plek kry. Hier maak hy ’n u-draai en kom trek die karavaan op die plek waar ma staan en wag.
"Hy was toe seker keelvol, want ma staan nog hande in die sye en korrel na die son, toe het pa uitgespring en klaar afgehak. Ma frons nog toe trek pa die Ford weg, skakel af, spring uit en gryp die karavaan se trekstang om dit te sleep na waar ma dit wil hê.
Ek moet lag. ”En hoe lank het dit gevat voordat ma tevrede was met die rigting waarin die karavaan staan?”
“Nee, daaroor praat ons mos nie,“ sê
Servaas.
0 Comments