-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dis sommer nog vroeg die middag toe ek op my stoep sit en kyk na niks wat voor my aangaan nie. Ek hoor Herman se bakkie en sekondes later hou dit voor my huis stil.
Herman maak die deur oop en skuif-skuif uit. Hy kom orent en stap met skuifel passies na my toe.
”Nou wat makeer jou? Jy loop soos een wat in groot pyn verkeer?” Hy kom tot by die stoep, loop trappie vir trappie tot bo, rek sy een arm ver uit en pluk ’n stoel nader.
“Seg ek jou broer, vandag voel dit soos die oordeel.” Ek kan sien hy het seer en trek die yskas se deur oop. Ek gee vir hom ’n kasteeltjie, hy laat klap dié se oor en vat ’n paar diep teue.
Ek sien toe eers sy twee voorarms is albei nerfaf aan die onderkant. Asof dit geskaaf is.
“Wat makeer jou arms? Dit lyk of jy gesleep is.” Herman leun agteroor, vat nog ’n slukkie van die kasteeltjie en toe sê hy.
“Ek en ma was mos die week by daai wildtuin waar daar nie drade om die kampterrein is nie. Die wild loop mos sommer so tussen die karavane rond. Dis daar waar dit gebeur het.” Nou is ek behoorlik nuuskierig. As sy arms so lyk, moes iets vreesliks gebeur het. “Vertel man.”
“Nee sien,” sê Herman. “Ek en ma sit mos vanoggend nog so op ons laaste dag in die kamp na die wild en kyk toe twee vlakvarke naderstaan om te kyk of daar nie vir hulle iets te ete is nie.
“Die twee vroetel daar rond en met die kom hulle al hoe nader aan ons. Dit pla nie want ons is gewoond aan die vlakvarke wat so nay kom. Hulle kom tot onder die afdak in.
“Ons het egter vergeet van die bak geskilde perskes wat ons onder die tafel gesit het. Die een vark ruik dit toe en skielik druk hy sy kop in die bak en vat ’n lekker groot hap.
“Ma sien dit en vlieg op. Sy soek na iets om die varke mee te jaag en al wat sy kry is my Blou Bul vlag wat ek net vantevore gewas en op die tafel gesit het om droog te word. Sy gryp die vlag en mik na vark se kant toe.
“Ek wou nog skreeu sy moet my vlag los, toe tref die vlag een vark se kop. Of die vark slim genoeg was om die vlag te hap en of dit in een van sy tande gehaak het, sal ek nou nie weet nie, maar hy ruk die vlag skoon uit ma se hand, vlieg kortom en maak spore. My wapperende Blou Bul vlag agterna.
“Nou kyk broer, niemand, maar niemand, lol met my Blou Bul vlag nie. Ek vlieg op en duik daai vark plat. Ek gryp die vlag, maar die vark kom orent en vat die pad.
“Wat kon ek doen? Ek klou vir al wat ek werd is. Daai vark sleep my onder die afdak uit, deur die stof en hope volstruis- en varkmis wat daar lê, deur graspolle en oor doringtakke. Die vlag het naderhand losgeskeur en vark is vort.
Ek kan nie help om te lag nie. “Gelukkig het die vlag losgekom anders was jy die vlaktes in.”
Herman sug: “Seg jy met ’n mondvol tanne!”
0 Comments