-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sit ons drie professionele pensioenarisse nou die ander dag op my stoep en wonder oor waarheen ons volgende keer ons karavane gaan sleep, toe Herman sommer so uit die bloute sê: “Het julle al gehoor hoe klink dit vroe môre as die manne begin afbreek en daai tentpale tref die grond”?
Dis nou een ding waaroor ons almal kan saamstem. Ons het al gehoor hoe klink dit. Veral vroeg in die môre. As die paal die grond tref, is dit soos klokkies wat lui.
Servaas strek sy lang bene voor hom uit. “Dit gaan ook maar partykeer woes met so kamp afbrekery. Veral as die son gevaarlik hoog sit en die sweet loop.
“Met ek en my aller-mooiste se laaste kamp, was dit juis weer so. Ons het nog lekker gesit en koffie drink toe buurman besluit dis nou tyd vir afbreek en oppak.
“Die gesin het geen keuse gehad nie as om te doen soos pa beveel. En beveel het hy beveel.” Servaas leun so effens vorentoe in die stoel. “Ek kan nou nie alles onthou wat hy gesê het nie, maar toe hy eers begin bevele uitbasuin toe hoor ek sommer weer daai beneukte samajoor vanuit my army dae. Die blaf soos ’n befoeterde bulterriër en die res moet net spring.
“Eers moes die karavaan se tent af en dis net: ‘Gryp daar!’ ‘Bring hom nou oor.’ ‘Nee man, nie so vinnig nie.’ ‘So ja, laat los!’ ‘Trek ma, die ding sit nog vas!’
“Tussen dit alles deur skroei die son en die sweet tap. Hoe hoër die son lig, hoe korter raak pa-samajoor se humeur.
“Een keer klink dit of iemand geklap word en toe bulder pa-samajoor, ‘Klap jy weer jou boetie dan m**r ek jou!”
“Ma sprak omtrent g’n sprook nie. In bykans doodse stilte pak sy haar goed soos sy dit wil hê.
Herman draai sy groot lyf so skuins in die stoel. “Die pa-samajoor, het hy die hele tyd in die warm son so droëbek ingepak?”
“Nee,” sê Servaas, “Hy het ’n kasteel of twee leeggemaak. Die gevolg was egter goed. Waar hy aan die begin redelik kortaf bevele uitgeskreeu het, het hy na die kastele baie kalmer geraak en kon ons aan sy stem hoor, hy wil net by die huis kom.
“In ’n stadium los hy ’n sug wat teen die berghange uit weergalm. Toe sê hy, ‘Ek gaan ook nooit vandag die blerrie trommel toekry nie. Hier’s te veel goed in.’
“Uiteindelik het hulle gepak. Toe’s pa-samajoor, wat eintlik teen daardie tyd pa-lammetjie is, agter die bakkie se stuurwiel in om die karavaan te haak. Stilswyende ma beduie hoe hy moet terugstoot en tjop-tjop is die karavaan gehaak. Pa vee nog die laaste sweet af toe bondel die vier in die bakkie en daar trek hulle. “Ongelukkig het nie een eers om die karavaan gestap en gekyk of alles gelaai is nie. Toe hulle om die eerste draai verdwyn, loer ek om die tent se kant na die leë staanplek langs ons en daar, mooi netjies opgevou en in sy sak, lê buurman se karavaantent.
“Ek het dit maar by die kantoor gaan ingee, maar sal nooit weet of hy dit gekry het nie.”
Ek leun agteroor in my stoel. “Dit kom nou van te haastig inpak.”
Herman loer na my. “Seg jy met ’n mond vol tanne.”
0 Comments