<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Vir hulle is vuurmaak harde werk

 
Rubrieke / Columns : 28 Aug 2015 239 Viewed By Melt van der Spuy 0

Ek sit nog die oggend ewe rustig op my stoep en slurp aan ’n koffietjie, toe Herman se bakkie voor die stoep tot stilstand wieg.
Die bakkie kort lankal nuwe skokbrekers, maar Herman is nou nie juis iemand wat hom daaraan sal steur nie.
’n Paar lang treë en hy plof in die stoel langs my neer. “Het jy al gesien hoe kan party ouens vir hulleself groot werk maak as dit kom by vuurmaak in die kampplek? Lyk my van hulle probeer die vuurmaak-ding ’n groot ding maak.”
Ek moet met hom saamstem. Dit is nogal die moeite werd om te sien hoe party manne hulle braaivure aansteek. Van hulle is so versigtig om te keer die houtjies foeter om, hulle plaas elke houtjie met die grootste sorg presies op sy plek.
Ander weer sit die kasteel op die grond neer, plaas ’n paar stukkies blitz op die vuurmaakplek, skud die hout uit die sak, gooi die hout sommerso deurmekaar bo-op, steek die blitz aan, tel die kasteel op en dan moet vuur se kind sy kant bring. Vuurmaker steur hom dan nie verder daaraan nie.
Voor ek iets kan byvoeg, storm Herman voort. “Jy moes gesien het hoe maak die ou vuur wat verlede naweek langs ek en ma gekamp het. Dis so presies gedoen, selfs die vleis het geglimlag!”
Ek glimlag ook. “Nou vertel my.”
“Ja,” sê Herman, “Eers is die vuurmaakplek sorgvuldig met ‘n lap skoongevee. Nou nie dat die plek juis vuil was nie. Hierna blaas Vuurmaker die laaste assies wat daar dalk nog mag wees, eenkant toe.
“Hy breek vier stukkies blitz af en sit dit in ’n soort van ’n vierkant op die braaiplek neer. Hy skuif elke stukkie bietjie in of bietjie uit tot hy tevrede is. Ek sweer as jy dit sou meet, was hulle presies elkeen ewe ver van mekaar af.
“Toe is dit die hout se beurt. Die oomblik toe hy die sakkie hout oopmaak en dit uitskud, toe sien ek dit. Vuurmaker het of by die huis of by die plek waar hy dit gekoop het, gesorg al die stukkies is presies ewe lank.
“Hy besluit toe om die goed regop teen mekaar te pak. Soos ’n rooi Indiaan se tent. Eers sit hy versigtig twee stukkies hout met die boonste punte teen mekaar en die onderste punte so paar sentimeter weg van mekaar af, op die braaiplek neer. Toe kom nog twee ewe versigtig langs die eerste twee sodat al vier boonste punte teen mekaar druk.
“Hy het die houtjies so geplaas dat hulle onderste punte mooi teen die stukkies blitz druk. Toe pak hy nog twee houtjies teen mekaar, beloer die spulletjie van bo en onder en besluit om nog twee te pak en na nog baie se geloer en gebuk nog ’n paar.
“Hy was blykbaar tevrede want hy steek die blitz aan. Vuurmaker staan nog en kyk hoe lekker brand sy vuur, toe gebeur dit.
“Sy kinders het met ’n bal gespeel en een skop toe so effe skeef. Die bal tref die opmekaar gestapelde, brandende houtjies en blitz mooi in die middel. Dit lyk soos vuurwerke soos die hout en blitz die vuurmaakplek verlaat en die wêreld vol trek.
Ek lag. “Wat maak Vuurmaker toe?”
Herman proes saam. “Ek sal liewer nie sê wat hy uitgegil het nie. Al wat ek kan sê is dat die kinders die res van die tyd nie een keer weer met die bal kon speel nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube