<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Tiekie laat waai karavaan toe

 
Rubrieke / Columns : 23 Sep 2015 579 Viewed By Melt van der Spuy 0

Dis warm en ek en Herman sit luilekker agteroor op my stoep met ’n koue kasteeltjie in die hand.
Herman vat ’n lang teug. “Dié dat dit nou so vrek warm is vandag, kry ek sommer lus om die karavaan te haak, Ma in die kar te laai en êrens by ’n lekker oord met ’n groot swembad of ’n ding te gaan kamp opsit.”
Net die gedagte daaraan laat my onrustig op die stoel rondskuif. Herman moet nou nie kom staan en neuk met sy gekampery nie.
Toe dink ek skielik aan Herman se swaer wat ‘n lekker groot dam op sy plaas het. “Nou hoekom haak jy nie jou karavaan en gaan kuier vir daardie swaer van jou wat op die plaas bly nie? As ek reg onthou, het julle al daar gekamp en jy het laas gesê hy het ’n groot dam waarin julle swem en visvang.”
Herman kry so-effe van ’n glimlag om die mond. “Ja, jy’s reg. My swaer het ’n lekker groot dam, maar dis by daardie dam wat daar laas groot moeilikheid was.”
Ek frons. “Vertel bietjie.”
Herman vat nog ‘n sluk. “Nee, jy sien, Ma het mos die ou brakkie wat haar skaduwee is. Waar sy gaan, gaan Tiekie. Ou Tiekie is ook nie meer ’n kind nie, maar sy het een groot probleem – sy is vrek bang vir alle harde geluide soos donderweer, klappers en enige ander vorm van geraas.
“So besluit ons toe verlede jaar ons gaan met Nuwejaarsdag by swaer kamp om Tiekie uit die dorp en weg van die klappers te kry.
“Swaerie stem in en op Oujaarsdag toe sleep ons die Sprite plaas toe. Swaerie het die gras by die dam lekker kort gesny en dis nie lank nie of ons kamp is reg en ons begin solank vuurmaak om ’n behoorlike Oujaarsdag-braai te hou.”
“Als het goed gegaan en ou Tiekie is rustig die ou jaar uit en die nuwe jaar in.”
“Die volgende oggend op Nuwejaarsdag, is ek en Tiekie vroeg uit die vere en ek gaan staan buite om my eerste koffie van die dag te geniet. Tiekie vroetel daar rond en hap na ’n sprinkaan.”
Herman sit nou regop en ek weet, hier kom ’n ding.
“Dit was doodstil met net die voëls se getjirp. Die volgende oomblik klap ’n geweerskoot.
“Dis toe swaerie wat gereeld las van die bobbejane in sy mangoboord het, wat hulle gewaar en laat waai met die 30-06. Sy huis is sowat 300meter van die dam af.
“Broer, toe daai skoot klap, toe lyk dit of Tiekie reg van voor getref is. Haar bene raak stokstyf en haar oë rek groter as haar neusgate. Sy lig haarself omtrent ’n meter die lug in en begin in die lug te hardloop.
“Terselfdertyd probeer sy omdraai. Sy slaag pragtig daarin en toe sy grondvat, is sy reeds op vol spoed. Sy loop daai karavaandeur storm en net toe sy haarself na bo lanseer om met een groot sprong in die karavaan te land, kom ma by die deur uit.
“Die twee ontmoet mekaar in die deur. Tiekie tref haar so ent bokant die knieë en dit laat ma reg agteroor slaan. Met die afkomslag trek sy effe skeef en val die hele ontbyttafeltjie en ’n bankie in ’n R2,500 se skade in.”
Ek loer na hom. “As jy geweet het swaer is ’n bobbejaanjagter op Nuwejaarsdag het jy by die huis gebly,
Hy lag openlik. “Seg jy met ’n mond vol tanne.” 

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube