<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

My kind word geboelie, hoe nou?

 
Rubrieke / Columns : 23 Sep 2015 535 Viewed By Amanda Basson 0

Jou skooldae behoort die lekkerste dae van jou lewe te wees, maar vir sommige kinders is hul skooljare een lang nagmerrie.
“My dogtertjie is effens oorgewig en gereeld die teiken van boelies by haar laerskool,” sê een mamma van Lephalale wat anoniem wil bly om haar kind te beskerm. Sy sê haar kind het al haar arm gebreek toe ‘n ander kind haar van die skool se trappe afgestamp het. “Dit was beslis nie ‘n eenmalige voorval nie en ek moes selfs al my kind uit ‘n naskool haal omdat sy so deur die ander kinders geteister word.”
Een ouer vertel dat haar Graad 1 seuntjie (6) gereeld in trane by die huis kom. “Sy kos word deur ander kinders afgeneem,” vertel sy. “Ek het al met my kind se onderwyser daaroor gepraat.”
‘n Ander ma van Mokopane het besluit om haar kind uit die laerskool te haal en eerder te begin met tuisonderrig. “Ek kon nie toekyk hoe my kind se selfbeeld wegkwyn nie en onderwysers is eenvoudig nie in staat om orals toesig te hou nie,” sê sy.
Helga Uys, ‘n opvoedkundige sielkundige in Lephalale sê dat boeliegedrag ‘n tendens is wat wêreldwyd toeneem. “Vir sommige huisgesinne is dit nie net ‘n onderwerp waaroor ons in koerante of tydskrifte lees nie, maar ‘n werklikheid wat ‘n invloed het op bykans almal in die gesin.”
In ons eie dorp het skole, sowel as ouers, daagliks met boeliegedrag te doen.
“Kinders is nie altyd bereid om te vertel as hulle geboelie word nie en dis daarom baie belangrik dat ouers op hoogte sal wees van die gevaarte-kens.”  
Volgens Uys sluit die gevolge van boeliegedrag op die slagoffer die volgende in: ‘n verhoogde vrees om skool toe te gaan, ’n minderwaardigheidskompleks, ontwikkeling wat benadeel word of ’n agterstand wat skielik ontwikkel, selfbeeldprobleme, ’n gevoel van eensaamheid, sosiale isolasie, emosionele probleme, psigosomatiese probleme bv. maagpyn, hoofpyn, naarheid, kommunikasieprobleme, depressie, antisosiale gedrag, moedeloosheid en die kind is dalk heeltyd huilerig.
Uys sê dat dit belangrik is dat ouers die skool moet inlig as hulle vermoed dat hul kind geboelie word.  Onthou dat jou kind se onderwysers waarskynlik nie weet dat jou kind afgeknou word nie. Kry dus al die nodige inligting en dra dit kalm oor indien nodig. “Skole is toegerus met ondersteuningstelsels wat hierdie soort probleme aan-spreek,” sê Helga.
Praktiese raad aan die slagoffer se ouers is om eers te luister eers voor jy raad gee of vra; moenie wys jy is ontsteld of hul elke dag uitvra bv. “met wie het jy vandag gespeel, wie was vandag lelik met jou?”; moenie jou angstigheid aan jou kind oordra nie; gee egte, positiewe raad – jou kind moet weet jy verstaan; stel die boelie se gedrag vir jou kind in konteks; fokus op jou kind se sterkpunte, bou aan jou kind se selfbeeld.
Indien jou kind dalk die een is wat afknou en boelie is dit belangrik om kalm te bly en jou kind te help om gesonde verhoudings met sy vriendekring aan te knoop.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube