-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Het julle al baie warm gekry as julle kamp? En nou meen ek, regtig warm. Nie sommer so poer-poer warm nie man, vrek warm.”
Dis Herman wat die vraag vra toe hy, Servaas en ek op my stoep sit en pas elkeen ’n kasteeltjie se oor gebreek het. Servaas kyk oor sy blikkie na hom. “Ek het al baie warm gekry as ons kamp.”
Herman draai sy kop na my. “En jy?”
“Nee, ek het ook al warm gekry. Veral in die somer. Boeta, dan brand hierdie Afrika-son vir jou tot jy kleinkoppie trek.”
“Ek hoor wat julle sê, maar ek glo nie een van julle het al so warm gekry soos ek en ma toe ons verlede maand in die willetuin was nie. Toe was dit warm, vrek warm.” Herman skuif effe vorentoe en net die gedagte aan daai warmkry laat hom sommer drie groot slukke van die koue kasteeltjie vat.
“Nee sien, ons wou mos die tyd van die jaar willetuin toe net om te voel hoe voel dit so in die somer. Die eerste drie dae van ons kamp was dit heeldag bewolk en ons het selfs daarvan gepraat om vir langer as ons beplande week daar te staan.
“Toe dag vier egter aanbreek, toe breek ander goed ook aan. Dis nou goed soos sonbesies wat voordag al sing, g’n blaar wat roer die hele dag nie en die son wat brand asof hy 30 ligjare nader aan jou gekruip het.
“Dit was heel lekker om uit te ry met die lugreëling wat die kar heel koel hou. Maar dis by daai uitklim terug in die kamp wat die hitte jou vat.”
Herman is nou volstoom aan die praat en die terugdink aan daardie versengende hitte laat die sweet op sy voorkop uitslaan. “Ek en ma kon nie naby die karavaan kom nie, want dié is so warm jy kan eiers op sy dak bak. Blink seil of te not.
“Die hitte in die tent tref jou soos ’n hamer teen die voorkop en jy voel of jy wil naar word. Ons gryp toe maar elkeen ’n stoel en soek koelte buite.
“Ons het naderhand elkeen ’n handdoek in die water gedruk en dit net so nat om ons nekke gehang, maar warm bly dit warm. Sy sleep toe maar ’n skottel water nader gooi ’n hele klomp stukkies ys daarin, skop haar plakkies uit en sit haar voete in die water. Dit het baie gehelp en ek skuif ook nader om ’n plekkie in die skottel te kry.
“ Ek sit my voete daarin en dit voel kompleet of jy hulle in ’n yskas druk, te lekker.”
Herman gooi sy leë blikkie in die asblik. “Ons begin net afkoel, toe besluit ’n willetuin tor dis nou die tyd om te gaan vir my een neusgat. Toe hy my neus tref, ruk my kop agteroor en ek vlieg orent asof jy ’n warm yster in ’n gevoelige plek ingedruk het.
“Die tor gee verskrik pad en my momentum dra my bolyf vorentoe. My twee koue voete reageer egter te stadig en ek tref die koelboks senter Mr. Venter met my kop.
“Ma vlieg op, maar ook haar twee koue voete reageer te stadig en sy val reguit vorentoe. Bo-op my. Ons val daai koelboks so plat soos ’n computer se keyboard.
Ek en Servaas skud soos ons lag. Herman glimlag net effe. “Ek en ma sal nie weer in die somer willetuin toe gaan nie.”
0 Comments