<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Die een kant in en die ander kant uit

 
Rubrieke / Columns : 27 Nov 2015 422 Viewed By Melt van der Spuy 0

Dis reeds laatmiddag toe Servaas by die hekkie inkom en Herman se bakkie terselfdertyd in die oprit tot stilstand kom.
“Ek sit juis en wonder wat van julle twee geword het en nou kom julle sowaar gelyk hier aan. Kry ’n stoel.”  Die twee maak hulleself tuis met veral Servaas wat in sy stoel insak asof hy en die stoel een is. Dis egter hy wat skielik regop sit. “Het ek julle al vertel van die ouens en die ape?” Ek en Herman kyk na mekaar, dan na Servaas en skud ons koppe. Ons weet beslis nie waarvan hy praat nie.
“Dit was nou die dag toe ons in die willetuin was. Ek en my aller-lieflikste het so bietjie gaan bokke kyk en ons was op die teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie toe ons om ’n draai kom en ’n hele trop bojane in die pad gewaar.
“Ons trek toe maar eenkant toe en hou stil. Daar is min dinge in die willetuin wat jou so lekker kan laat lag soos bojane. Ek en my aller-mooiste skuif reg om die knape se manewales te geniet.”
Herman moet ook eers sy stuiwer in die armbeurs gooi. “Het julle al gesien wat maak die bojane as jy vir hulle ‘n CD met dieregeluide, spesifiek ’n leeu se gebrul daarop speel? Dis net een lang blerts, ’n benoude geskreeu en die hele lot is die naaste bome in.”
Servaas glimlag net. “Ja, dis so, maar dié dag het daar iets heeltemal anders by die bojane gebeur. Julle sien, terwyl ons so na die spulletjie sit en kyk kom daar maar af en toe ’n kar van voor van of agter af. Die een ry sommer aan terwyl die ander stilhou en ook so rukkie vir die bojane sit en kyk.
“Een so kar was een van hierdie nuwerwetse Duitse karre met vier grootmense in. Sommer met die verbykomslag kon ons sien dis pure jappies in daai kar. Dit kou en drink en lag met oop monde.
“Die kar ry stadig by ons verby en hou voor ons stil om na die bojane te kyk. Ek sê nog vir my aller-enigste die manne soek moeilikheid om so met al vier oop vensters te ry, toe een bojaan sy kans sien.
“Die vier in die kar kyk op daardie oomblik almal na regs waar ‘n ma-bojaan haar kind bietjie teregwys, toe die kansvatter 'bojaan' vastrap en aan die linkerkant van die kar deur die agtervenster in die kar spring. Hy sien ’n pakkie skyfies wat blykbaar op die vrou naaste aan hom se skoot gelê het, gryp dit en prop dit in sy bek.
Ons weet sommer wat kom en luister met ene ore na Servaas. “Vir so sekonde of drie is dit asof daar niks in die kar voor ons aangaan nie. Toe vlieg al vier deure oop en die vier mense uit die kar val uit met bojaan agterna. Die mense se gille skreeu ten hemele en die ander bojane skrik so vir hierdie rumoer, hulle gryp die kleintjies en laat waai die bome in
“Die een wat in die kar was, sien ’n witbrood het saam met die spulletjie uit die kar geval. Hy raap dit op en laat spaander die naaste boom in.
“Voor jy kan sê, hier kom ’n ding, vlieg die vier terug in die kar en daar trek hulle. Ek dink die reuk was nie te lekker in daai kar nie, want julle weet mos wat doen bojaan se kind as hy skrik.” 

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube