<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Wees geduldig en kamp lekker

 
Rubrieke / Columns : 17 Dec 2015 391 Viewed By Melt van der Spuy 0

Servaas strek sy lang bene voor hom uit en terwyl hy sy hande inmekaar vou, draai hy sy kop na my toe:”Was dit darem verlede jaar met krismis vir jou ’n affêre toe ons saam met Herman-hulle gaan kamp het.”
“Ek weet niks daarvan nie. Watse affêre praat jy van?” Dis net wat Servaas wou gehoor het.
“Ons het mos oor krismis saam gaan kamp. Alles het glad verloop met die ry, maar Herman het met die aanteken by ontvangs half kriewelrig geraak toe die blondekop agter die toonbank nie gou genoeg na sy sin sy papiere en goeters afhandel nie.
“Ek sien hy loer so na my kant toe en trek sy mond skeef. Ek maak vir hom groot oë en skud my kop effens van kant tot kant om hom rustig te maak. Blondekop tel haar kop op, glimlag alte mooi vir hom en gee sy papiere terug.
“Herman was nog altyd ’n sucker vir ’n mooi glimlag en toe dit nog van die blondekop se kant af kom, toe sak sy gemoed tot onder vriespunt.”
“Ja,” sê ek, “so ken ek hom. Maar wat toe verder?”
Servaas kry daai glinstering in sy oog: “Ons ry toe agter mekaar die kamp in, kry nogal baie gou twee lekker staanplekke langs mekaar met baie koelte en begin ons kamp opslaan. Maar dit was warm man en nog voor Herman die eerste pen inkap, toe klap die eerste kasteeltjie sê oor.
“Sy ma-goed was egter nog nie tevrede met hoe die wa moet staan nie en sy beduie so-effe na regs. Herman pak die disselboom en pluk dit haar linkerkant  toe. Weer beduie sy hy moet anderkant toe trek en weer trek hy verkeerde kant toe. Sy stap om die wa en loop tot teen hom: “My ou liefie, nie jou regterkant nie, myne!”
“Herman gooi sy hande in die lug, gryp die disselboom en ruk daai Sprite ver na sy ma-goed se regterkant toe, jy hoor net koppies en glase binnekant val.” Ek en Servaas proes van die lag.
“Maar toe’s dit nog nie verby nie”, sê Servaas, “toe dit by tent opsit kom kan die twee net nie ooreenkom wie hou waar vas nie. Dis net: “Ek trek die swart tou.” “Man maak vas die ding.” “Nee magtag, die paal foeter dan om.” “Kan jy nie kyk wat jy doen nie?”
“Uiteindelik staan die tent en toe’s dit stoele en tafels uitpak. Jy sou sweer Herman kamp die eerste keer in sy lewe. Hy sit die goed net neer en dan moet ma-goed dit ewe gedwee regskuif.
“Toe dit hier by die einde se kant kom en Herman weer met ’n bulderende stem wil weet waar hy ‘n groot skottel moet sit, klim ma-goed  in die karavaan net om ’n sekonde of tien later met iets swart in haar hand uit te kom.
“Toe het sy my en my aller-lekkerste kampvrou se volle aandag. Herman se ma-goed loop sonder ’n woord tot by hom. Vat sy een hand en sit die swart ding in sy hand. Toe sien ons dit. Dit is ’n bybel.
“Daai gebaar klap Herman soos ’n tien kilogram hamer teen die voorkop. Jy kon sommer sien hy besef hy was verkeerd en agter alles, dis darem krismis ook.”
Ek glimlag skeef. “Van toe af het hy hom seker gedra.” Servaas knik net sy kop. “O ja,” sê hy. “Stuur sommer in jou geskriffie Kersgroete van ons drie aan al die lesers.”
Ek maak so.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube