<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Toe gee die batterye die gees

 
Rubrieke / Columns : 01 Feb 2016 432 Viewed By Melt van der Spuy 0

Ek sit nou die ander dag nog so ewe lekker op my stoep en geniet my pensioenarisdae toe Servaas kom môre sê.
“Dagsê mater, dis goed om jou te sien,” sê ek. Hy antwoord nie en kom koponderstebo aangestap. Op die stoep gekom, hou hy sy kop nog steeds teen sy bors en sak in die naaste stoel weg.
Hy sê: “As jy lag, loop ek.”
Ek weet nie mooi waarvan hy praat nie. “Ek sal nie lag nie.” Hy tel sy kop op en kyk na my. Ek moes my lag inhou. Sy bolip staan soos ’n waatlemoen geswel en hy spog met ’n bielie van ’n blouoog.
“Genade, wat het jou getref? Het jou aller-lieflikste nou uiteindelik haar houe ingekry?” spot ek. Servaas glimlag met ’n skewe mond. “As dit maar so was, maar ek het so geval.”
“Geval? Vertel bietjie.”
Hy sug beswaard. “Ons het mos gaan kamp die naweek en dis daar waar dit gebeur het.”
“Waar wat gebeur het?”
“Ek en my aller-mooiste het die aand nog so lekker buite ons tent gesit toe Eskom besluit dis nou tyd vir een van sy load-sheddings. Skielik was die hele kamp donker. Maar donker man, jy kon nie jou spreek-woordelike hand voor jou oë sien nie.
“Ek is nou nie baie lekker met die donker nie en ons sit toe maar soos ons sit. Maar later toe roep die natuur en ek sê vir my aller-donkerste ek moet nou ablusieblok toe. Sy staan toe op en gaan haal vir my die flits.
“Ek is met flits en al toilet toe en dié was juis ’n hele paar meter van ons karavaan af. Nadat ek my ding gedoen het, vat ek weer die flits en wil lig waar om te loop toe die flits se batterye op daardie oomblik besluit, dis nou tyd om te groet. Een groot donkerte sak oor my toe.
“Dit sou maklik gewees het vir my om weer by die karavaan uit te kom as dit nie vir een probleempie was nie. Ek is in die nag so blind soos mol. Kan niks sien nie en van rigting hou is daar g’n sprake nie.
“Ek was te ver van die karavaan af om my aller-wagtende te roep om te kom help en ek besluit ek sal maar die pad moet vat. Ek is die gebou uit en dit voel half ek moet regs. Ek het ’n hele ent gestap toe ek skielik ’n liggie voor my sien.
“Dankbaar dat ek die karavaan gehaal het, stap ek ewe flink na die liggie toe. Dit skyn uit ’n karavaantent en ek buk vinnig die tent in.
“Toe ek so halfpad die tent in is, sien ek dit. Dis nie my tent nie. Dis ook nie my aller-kaalste wat voor my staan nie en dis ook nie ek wat die kaal vrou om die lyf beet het nie.”
Ek weet sommer hier kom ’n ding. “En toe?”
“Ek besef ek moet weg. Ek vlieg om en duik vir die tentopening. Ek trek egter bietjie skeef en tref die tentpaal. Met die onbekende vrou se gille in my ore, spring ek op en val by die tent uit, bo-op hulle braaier.
“Gelukkig het my aller-benoudste intussen ook besluit sy moet toilet toe en sy het nader gestaan toe sy die lawaai hoor. Sy het maar verduidelik en my aan die hand karavaan toe gelei.”
Ek glimlag vir hom. “Pleks jy maar seker gemaak het die flits se batterye is nog sterk.”
Hy glimlag stywe lip. “Daaroor praat ons mos nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube