<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Botteltjies en roompies net waar mens kyk

 
Rubrieke / Columns : 24 Mar 2016 477 Viewed By Melt van der Spuy 0

Dit is Servaas wat ek en Herman se middagslapie kom steur. “Dagsê maters. Lyk my julle het al weer nie werk vir julle hande nie. Sit net hier en word sleg.” Asof hy kan praat. Hy homself is een wat nou nie juis vreeslik besig is nie.
“Het ek julle al vertel van die ou met die botteltjies en sepies en goeters wat ek in een kampplek se badkamer raakgeloop het?” vra hy. Ons skud ons koppe ontkennend. Servaas skuif vorentoe in sy stoel. ”Nou laat ek julle vertel. Ek kom die oggend in die badkamer met my handdoekie en toiletsakkie om die vaak uit my oë te spoel en daai hond gevoel uit my mond te kry. Ek is alleen en sit my sakkie langs die een wasbak neer.
“Toe kom daar ’n man ingestap met ’n groot handdoek oor die arm en in tas in die hand. Maar dis nie sommerso tas nie. Dis ’n tas.” En Servaas beduie so wyd dat dit lyk of die tas omtrent so groot soos ’n doodskis moes wees.
“Hy sit die tas langs die wasbak neer en maak dit oop.Toe begin hy uitpak. Ek sê vir julle, ek het later gedink die tas het ’n vals bodem, so baie goed pak hy uit. Dis ronde botteltjies, regop botteltjies, plat botteltjies, dik botteltjies, kamme, drie of vier sponse en toe’s dit tandeborsels. ’n Pienke, ’n rooie, ’n bloue, een nog toegedraai in sy verpakking.
“Net toe ek dink nou’s die tas leeg, toe kom die seep. Weer is dit ’n bloue, ’n pienke, toe een in deurskynende papier, een in die vorm van ‘n bootjie en so wragtag een in die vorm van ’n paashaas.
“Dit lyk voor en om hom soos wat party vrouens se spieëlkaste nie kan lyk nie. Daar’s nie plek vir nog enige iets anders nie.
“Teen die tyd hang my mond oop en ek vergeet skoon om verder tande te borsel. Ek sien die knaap kyk na my kant toe, toe kyk ek maar weg en borsel voort.”
Herman is nou wawyd wakker. “Moenie sê jy’t hom ’n streep getrek nie?”
Servaas glimlag skelm. “Ek loer so uit die hoek van my oog en sien my kans. Die man het roompies uit een botteltjie gedruk en sy hare begin was. Met sy kop vol sjampoe en sy oë toegeknyp om te keer dit loop nie in sy oë nie, voel-voel hy voor hom rond op soek na ’n spesifieke botteltjie.
“Ek besluit toe ek sal hom so bietjie help. Ek sien ’n botteltjie waarop duidelik geskryf staan dis een of ander kleurmiddel en ek stoot versigtig dié botteltjie onder sy soekende vingers in. Die man vat dit vas en met sy oë steeds styf toegeknyp, druk hy die botteltjie se inhoud in sy een handpalm uit en vryf dit lustig in sy hare. Dis toe wat ek blitsig my mond uitspoel, al my goed bymekaar maak en sorg dat ek uit die badkamer kom.
“Ek was al by my kampplek so 50 treë weg, toe hoor ek die gil uit die badkamer.” Ons bars uit van die lag. Ek vra: “Watse kleur was sy hare toe?”
Servaas lag. “Hy was ’n bruinkop, maar toe’s hy so rooi soos beet.“ Herman sê: “As hy jou in die hande gekry het, was jy oorle.”
“Jy’s reg,” sê Servaas, “maar daaroor praat ons mos nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube