<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Wat is koud en wat is warm?

 
Rubrieke / Columns : 27 May 2016 1032 Viewed By Melt van der Spuy 0

Dit is in die middel van die week en ek en my mede professionele pensioenaris Herman, sit ewe rustig in ons stoele op my voorstoep. Ons is hard besig om soos elke dag niks te doen nie.
Skielik kom Servaas by die voorhekkie in. Hy gee net drie treë met daardie lang bene van hom toe is hy op die stoep en in sy stoel.
Ek en Herman kyk na mekaar en groet gelyk. “Môre mater.” Servaas mompel iets wat soos ’n groet klink en toe kom dit. ”Jy kry lloodgieters en dan kry jy plumbers. Loodgieters ken hulle storie waar dit kom by krane, water en sulke goed. Plumbers weet van krane oop en toe draai en dis ook al.”
Ek draai na hom. “Wie pla jou, ’n loodgieter of ’n plumber?” “Nie ’n loodgieter nie. ’n Plumber wel.”
Ek skink vir Servaas ’n beker koffie en nadat hy sy eerste lekker groot sluk gegee het, sê hy: “Ek en my aller-mooiste skiet toe mos laasweek uit na hierdie nuwe oord buite die dorp. Sal maar nie die plek se naam noem nie, dan sit jy dit weer in die koerant,” kom dit skuinsweg na my toe.
Ek lig net my wenkbroue en Servaas vat nog ’n sluk. “Alles het goed gegaan tot ek in die plek se ablusieblok kom. Dis baie mooi en prakties en alles ruik sommer nog splinternuut.
“Ek is toe daar om gesig en hande te was en draai die warm kraan oop. Dis nou as jy voor die wasbak
staan die een aan jou linkerkant. Soos dit hoort. Moet bysê, daar was g’n rooi of groen knoppie op enige kraan nie.
“Nou wag ek vir die bietjie koue water om uit te loop sodat ek my gesig in warm water kan was. Langs my staan ’n ander kampeerder en so uit die hoek van sy een oog loer hy na my. My kraan se water loooop tot hy nie meer kan hou nie.
“Hy draai na my toe sê: ‘Daai kraan se water gaan nie warm word nie, dis die koue kraan.’
Weer vat Servaas ’n sluk koffie. “Ek kop toe die krane is omgedraai. Ek maak die regterkantste een oop en daar is die warm water. Toe weet ek sommer dis ’n plumber se werk.
“Die aand toe loop stort ek. In die stort is dit toe dieselfde storie. Geen groen of rooi knoppie nie, maar ek is reg. Ek weet mos watter is watter.
“Ek maak toe solank die regterkantste kraan oop sodat die bietjie koue water kan uitloop voor die warm water kom. Intussen trek ek die gordyntjie toe en pak my handdoek en sulke goedjies netjies op die rakkie. Dit was maar koud en ek wou vinnig warm word. Ek pluk die gordyntjie weg en spring behoorlik onder die warm water in.” Dit lyk of Servaas se mondhoeke skeeftrek by die onthou van hierdie episode.
“Maters, ek kom onder daai stort uit soos die
spreekwoordelike jet-plane. Die water is so koud jy sal sweer dis vooraf geys. Toe weet ek, onse plumber het weer die krane omgeruil. Met die spring onder die water uit, trap ek te ver en stamp my hele ou toiletsakkie dat hy daar trek. Jy sien net tandepaste, tandelborsel, seep, skeermes die hele hokkie vol.”
Ek kyk skuinsweg na Servaas. “Hoekom het jy nie maar eers die water met een vinger getoets nie?”
Servaas sak verleë weg in sy stoel. “Nee, daaroor praat ons mos nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube