-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ek was reeds in die bed toe ek in September 2015 ‘n oproep kry van ‘n vriend wat in Marapong bly. “Ek weet nie wat gaan aan nie, maar hulle is besig om petrolbomme te gooi en ek kan nie by die huis kom nie,” die angs in Karabo se stem was tasbaar en in die agtergrond kon ek die plofgeluide soos skote hoor.
Die volgende dag het ek soontoe gery en die uitgebrande busgeraamtes in die strate het amper sinister gelyk. Die reuk van gebrande rubber het nog dik in die lug gehang en oral het groepies mense verbysterd rondgestaan. Daardie dag is 22 busse, munisipale geboue en ‘n satelliet polisiestasie uitgebrand en ‘n paar privaat besighede beskadig.
Dit was ‘n donker tyd vir die dorp en mense het vreesbevange hul kinders by die huis gehou terwyl spekulasies oor die oorsaak van die onluste hoogty gevier het.
Hierdie week kyk ek met afgryse na die foto’s wat ek ontvang van die onluste in Pretoria en dink terug aan daardie tyd. Ek onthou hoe Karabo geklink het toe ek met hom praat en die verslaenheid wat ek in die gesigte gesien het van die mense wat naby die geweld gewoon het.
In my hart treur ek oor Pretoria en die pragtige stad wat verwoes word, maar my grootste angs is oor die toekoms van ons land. Ek het drie klein kindertjies en soos enige ouer bekommer ek my oor wat van hulle gaan word. Is daar nog hoop vir hulle?
Dan kyk ek na al die positiewe dinge wat besig is om rondom my te gebeur. Verlede Donderdag het ons Jeugdag gevier en alhoewel sommige mense die tyd gebruik het om ‘n bietjie af te skakel, het ander die dag gebruik om uit te reik na mense en instansies om hulle.
‘n Groot sekuriteitsmaatskappy in Lephalale het die dag gebruik om hondjies te gaan dip by die DBV, ‘n interkerklike groep het ‘n jeug gholfdag gehou sodat hulle vir minderbevoorregte kinders kan geskenke gee, ‘n groep besigheidsmense het saam met skoolhoofde hande gevat om hul op te lei om beter leiers by hul skole te wees en ‘n Mev. Suid Afrika finalis het ‘n uitreiking na ander vroue gehou om hulle te herinner aan hul waarde as vroue.
Al hierdie mense het nie net hul waardevolle tyd gegee nie, maar was ook ‘n voorbeeld vir hul kinders. En dit is juis hierdie voorbeeld wat ons kinders eendag gaan volg. Die ou mense was altyd lief daarvoor om te sê dat ons moet doen wat hulle sê en nie doen wat hulle doen nie, maar ek kan uit ervaring sê dat jou optrede baie meer spreek as jou woorde.
Jare terug het iemand aan my gesê dat jy soos ‘n orgideë in die Bosveld moet wees. Selfs al is dit nie die plek waar jy graag wil wees nie moet jy blom waar jy geplant is. Ek glo dat dit een van die belangrikste lesse is wat ek vir my kinders wil leer. Dinge gaan dalk nie altyd wees soos wat ons dit wil hê nie maar solank as wat daar nog lewe is is daar nog hoop.
Ten spyte van die moeilike tyd waarin ons nou leef moet ons ons kinders leer om hul gesiggies na die son te draai en hul geur te gebruik om die lelike wêreld rondom hulle ‘n bietjie mooier te maak… soos ‘n orgideë in die Bosveld.
0 Comments