<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nogtans sal ek jubel!

 

Amanda Basson.

Rubrieke / Columns : 19 Jul 2016 1108 Viewed By Amanda Basson 0

Die manne in die biertent is nie hier om te drink nie dit kan mens sommer met die eerste oogopslag sien. Verweerde songebrande gesigte en harde hande vol eelte spreek van mans wat harde werk ken. “Verskoon tog niggie,” sê ‘n ou oom wat by my verby sukkel om in die voorste ry langs sy kleinseun te gaan sit.
Ek ruik die Bosveld aan sy klere terwyl hy met sy ou hande oor sy kierie vryf. Soos al die ander boere is hy hier om wild te koop, maar die atmosfeer in die tent is voelbaar terneergedruk. Dit was ‘n harde jaar en die afslaer sukkel om die voorgestelde pryse vir die wild te kry.
Skuins voor my sit ‘n pa en sy blinde dogter. Elke nou-en-dan gee hy vir haar ‘n drukkie terwyl hy sekermaak dat sy nie oorweldig word deur die harde geluide en baie mense nie.
Later stap ek na een van die piekniek tafeltjies in die tent waar ek ‘n jongman sien sit. Hy staan soos ‘n seer duim uit met sy modieuse klere, perfekte hare en amper verfynde maniertjies.
Ek gaan sit langs hom en gesels oor alles behalwe wild en die huidige droogte wat soos ‘n doodsmantel dreig om die tent toe te vou en elke laaste druppeltjie lekker uit die geleentheid te wurg.
Die jongman wil gaan kunste studeer. “Wat dink jou pa hiervan,” vra ek terwyl ek na die groep hardwerkende mans kyk. Ek kan myself nie indink dat een van hierdie boere so ‘n kunssinnige seun kan hê nie.
“Dis hoekom ons hier is, as my pa vandag genoeg kan verkoop kan ek solank by die universiteit inskryf,” babbel my nuwe vriend. Ek dink aan die lae pryse wat die wild behaal het en die huiwerigheid waarmee die boere gebie het. Selfs met die skrale kennis wat ek van boer het, besef ek dat daar nie regtig enigiemand is wat nou ekstra geld het nie.
Ek loop die jongman se pa later raak en besluit om liewer nie oor sy kind se toekomsdrome te praat nie, maar wens hom tog geluk dat hy daarin geslaag het om so ‘n oulike kind groot te maak. Met ‘n vêraf kyk in sy oë vryf hy amper skugter oor sy stoppelbaard voor hy my antwoord. “Daar is tye dat ek sukkel om vatplek aan hom te kry, maar soms as dit voel asof die wêreld my van alle kante af druk kyk ek na my kind en ek besef dat alles wat mooi is baie nader aan my is as wat ek dink."
Toe ek huis toe gaan dink ek aan die woorde van die profeet Habakuk wat nou so gepas is: “Selfs al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe in die wingerde oor wees nie, nogtans sal ek jubel.”
Ek jubel oor al die pa’s wat so mooi na hul kinders kyk selfs al gaan dit sleg. ‘n Pa wat bereid is om sy blinde dogter se oë te wees, ‘n pa wat bereid is om sy kunssinnige kind universiteit toe te stuur selfs al wil hy hom eerder op die plaas hê, ‘n oupa wat sy kleinseun kom bystaan het op sy eerste
veiling. Ja, selfs met die droogte, die ekonomie en die misdaad, nogtans sal ek jubel.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube