-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ons drie professionele pensioenarisse sit nou die ander dag heerlik op my stoep en teug aan ’n kasteeltjie, toe Servaas na Herman se kant kyk sê: “Gaan jy hom sê, of moet ek dit doen?”
Herman trek sy lippe op ’n tuit. “Dis beter as jy hom sê. Ek is nie baie goed met sulke dinge nie.”
Verbaas kyk ek na die twee. “Wat wil julle vir my sê?” Servaas skuif sy ellelange lyf regop in die stoel en kyk my stip in die oë.”Jy skryf nou al ’n hele ruk in die koerant van ons doen dinge as ons kamp. Ek en Herman het nou so gedink – dis nou tyd vir die koerant se lesers om van ander dinge te lees. Hulle wil nie so baie van kamp lees nie.”
Ek kyk hulle verbaas aan. “So julle voel die lesers het nou genoeg gehad van julle droogmakery as julle kamp.” Die twee knik met die kop, maar kyk nie na my nie. Ek glimlag.”Dis nie nodig om so skaam daaroor te wees nie. Aan alles in die lewe kom ’n einde. As daar nie meer kampstories is om te vertel nie, dan is daar nie meer nie. Dis dan so.”
Ek sien die verligting spoel soos ’n brander oor Servaas en Herman se gesigte. Dis Herman wat eerste praat. ”Man dit laat ons nou sommer beter voel. Toe ons hieroor gepraat, en besluit het ons moet dit vir jou sê, was dit nag vir my, maar ek is bly jy sien dit in en verstaan dit.”
Ek lag. “Natuurlik verstaan ek dit. Maar jy wat Herman is, moet nog net vir my vertel van die badkamer en die ligte wat afgegaan het.”
Herman begin te lag. “Seker Ma wat jou dit vertel het.” Ek knik instemmend. Hy leun effe vorentoe en vat nog ’n sluk uit sy kasteeltjie.
”Jong ons het mos nou die ander dag weer daar by daai oord waarvoor ons so lief is, gekamp. Hulle het puik ablusies man. Ek sê jou, jy voel of jy in ’n grênd hotel is as jy daar is.
“Hulle het egter ’n verandering aan die badkamers aangebring sedert ons daar was. ’n Deel van die mans se kant is toegebou en dit is nou ’n gesinsbadkamer.
“Ek en ma is die aand daarin, want dis mos nou lekker om so saam-saam skoon te kom. Ons het net lekker in die bad gesit, toe gaan die ligte af. En dis donker man, stiksiende donker. Ons het nooit geweet hulle het die hele badkamer se ligte op een skakelaar gelos nie en toe iemand klaar is in die mans se badkamer, loop hy uit en sit die ligte af. Toe’s dit by ons ook donker.
”Ek sê jou, ek en ma het maar aanhou was en meer mekaar gewas as onsself. Toe ons uitklim, staan ons gelyk op en dit was so hittete of ons beland kop eerste op die vloer. Ons spook met die handdoeke en toe ons droog is, vat ons wat ons kan en mik deur toe.
“Op daardie oomblik het iemand weer die mans se badkamer gebruik en skielik is die ligte aan. Toe kon ons darem alles vat en loop.”
Ek glimlag. ”Nou onthou maar om in die toekoms ’n liggie saam te vat. Dis ’n mooi storie om mee af te sluit. Net een ding pla my – julle twee moet nou nie goed gaan aanvang waarvoor ek my moet skaam nie.”
Herman glimlag vroom. ”Seg jy met ‘n mond vol tanne.”
Servaas loer na my.” Daaroor praat ons mos nie.”
0 Comments