<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Harde werk lê voor vir Matrieks

 
School : 22 Aug 2014 92 Viewed By NoordNuus reporter 0

Met die rekord-eksamen wat volgende week begin is dit neuse-in-die-boeke vir die Matriek leerlinge  van Lephalale en Mokopane en kenners meen hierdie jaar se Graad 12-groep sal hulle sokkies moet optrek.
As die eerste groep wat die nasionale senior sertifikaat (NSS) van die nuwe nasionale kurrikulum- en assesserings beleidsverklaring (KABV) gaan skryf, het die klas van 2014 ‘n besonderse uitdaging.
“Die werklading en die standaard is beslis hoër as vorige jare,” meen Ellisras Hoërskool hoof, Louis Campbell.
Campbell sê hy is bekommerd dat hierdie jaar se matrieks nie die erns van die saak besef nie. “Hulle sal beslis moet hard leer en vasbyt.”
Volgens ‘n berig in Rapport hierdie week, sal Graad 12 leerders veral in die eindeksamen op ‘n hoër vlak getoets word wat probleemoplossing, denkvaardighede en hul vermoë om te argumenteer betref. Veral Wiskunde en Wetenskap gaan ‘n uitdaging wees aangesien die werklading aansienlik hoër is. Die KABV is in 2012 ingestel om uitkomsgerigte onderrig te vervang, en is volgens akademici ’n beter stelsel as die vorige een.
EHS het die afgelope twee jaar besonder goed gevaar en was twee jaar in ‘n ry aangewys as die skool met die beste Matriekuitslae in die Waterbergdistrik. Uit die top 10 leerders was die top drie van EHS. “Ons hoop om voort te bou op hierdie uitslae, maar leerlinge moenie dink dit kom sommer vanself nie. Goeie uitslae kom net deur harde werk en deursettingsvermoë,” sê Campbell.
Waterberg Hoërskool in Mokopane se Altie Meyer sê dit is moeilik om die leerders gemotiveerd te hou en sê ook die standaarde is verhoog. “Boonop spartel ons om die sillabus klaar te kry,” sê sy en verwys na die eerste jaar van Caps opleiding en eksamen.
Noordelike Nuus wens alle matriek leerlinge sterkte toe vir eksamens wat voorlê.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube