-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Heerlike kos, bobaas wyn en goeie geselskap was aan die orde van die dag tydens Hoërskool Piet Potgieter se vierde wynveiling op 26 Mei in die Pier-neef saal. Die veiling, met ‘n Great Gatsby tema, is goed ondersteun en R174 000 is ingesamel ten bate van die skool se ontwikkelingsfonds het waarnemende hoof, Cas Badenhorst, gesê.
Die Ontwikkeldingsfonds word gebruik vir die stig van nuwe projekte asook die onderhoud van bestaande projekte by HPP.
Die bekende wildboer, Piet Warren, was die aand se gasspreker en het meer oor die wildbedryf gesels. Hy het ook die ys gebreek deur suksesvol op die eerste lot wyn te bie.
Leslie Venton het meer vertel oor watter wyn met watter gereg voorgesit moet word en gaste is bederf met Diemersdal se heerlike wyne wat saam met ‘n heerlike aandete voorgesit is deur die Graad 11 gasvryheidsstudie leerders wat as kelners opgetree het.
Alan Sinclair van Vleissentraal het seker gemaak dat die bod elke keer op die beste moontlike prys toegeslaan is.
Die eerste HPP wynveiling is gehou in 2013 in samewerking met Paal Gimnasium. Hierdie jaar het HPP besluit dat dit nie meer die lonend is om in ‘n vennootskap voort te gaan nie. “HPP bedank Paarl Gimnasium vir die drie jaar se vennootskap en die leiding wat hulle ons gegee het om vanjaar ons eie wynveiling aan te bied,” het Badenhorst gesê.
Jaco van der Wateren (oud-voorsitter van die beheerliggaam) het die leiding geneem om hierdie projek self aan te bied. Die skool het self die wyn aangekoop en verskeie kelders gekontak en afslagpryse beding en selfs borge is ontvang.
Van der Wateren, C.P. van der Walt en Pierre Peens wat vanaf die eerste veiling reeds betrokke was het op eie koste Kaap toe gevlieg en die beste wyne in die Boland gaan haal en Bosveld toe gebring. Die driemanskap het by Jan Boland Coetzee (rugby springbok en wynmaker) tuisgegaan. Hulle het sy KWV-kwota asook sy kontakte in die wynbedryf gebruik.
Van die hoogtepunte het ingesluit ‘n KWV 20 Jaar Potstill Brandewyn (750ml) wat vir R4 000 verkoop is aan André Kiesling (wat ook die grootste koper van die aand was) en ‘n Simonsig (6 x 750ml) Syrah Merindol, Tiara, Frans Malan & Pinotage Redhill wat saam vir R4 000 verkoop is aan Fred Beytell. ‘n Vakansiepakket by Bottelierskop is verkoop aan Hendrik Swanepoel vir
R11 500.
Die skool bedank almal wat die aand meegemaak het en veral vir Jaco van der Wateren, Pierre Peens en CP en Gertru van der Walt vir hul betrokkenheid. Die skool sê ook dankie aan die komitee wat bestaan het uit Van der Wateren, Van der Walt, Peens, Stanley Blount, Gerda Roos-Hawken, Kurt Kruger, Cas Badenhorst en Michelle Buitendag (asook die personeel van HPP en die dames wat die dekor behartig het).
0 Comments