<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Pak die eksamenmonster reg aan

 

Eksamens is deel van elke kind se skoollewe, maar wanneer dit eindeksamen tyd word kan spanning sommige leerders en hul ouers teen die mure uitdryf. Diana du Preez, ‘n berader in Lephalale, gee hier ‘n paar praktiese wenke wat kan help met eksamen spanning.

School : 04 Nov 2016 351 Viewed 0

Eksamens is deel van elke kind se skoollewe, maar wanneer dit eindeksamen tyd word kan spanning sommige leerders en hul ouers teen die mure uitdryf. Diana du Preez, ‘n berader in Lephalale, gee hier ‘n paar praktiese wenke wat kan help met eksamen spanning.

Kinders wat eksamen spanning ervaar is gewoonlik geirritteerd, slaap sleg, het eetlusversteurings, hoofpyne en maagkrampe en kan depressief en negatief voorkom. Dit is dan ook gedurende hierdie tyd wanneer ondersteuning van ‘n ouer, onderwyser of studiegroep leerders kan help om hul bekommernisse te deel en om weer dinge in perspektief te kry.

Hier is ‘n paar wenke wat kan help om eksamen spanning te verlig:

‘n Gebalanseerde diëet is belangrik en kan help om jou kind goed te laat voel gedurende die eksamen. Energiedrankies kan dalk soos ‘n kits-oplossing lyk om kwynende energievlakke ‘n hupstoot te gee, maar dit kan lei tot hiperaktiwiteit, geïrriteerdheid en emosionele uitbarstings. Vermy liewers hoë vet diëte met baie suiker en beperk kafeïen tot die minimum.

Om deurnag te studeer is ‘n slegte idee. Dit is belangriker om ‘n goeie nagrus voor ‘n toets te kry as om nog ‘n paar feite te probeer memoriseer. Voldoende slaap sal jou denkvermoë en jou konsentrasie verbeter. Tieners benodig minstens agt ure slaap per nag.

Lê maar bietjie slap met die huishoudelike take. Wanneer jou kind die hele dag studeer het is dit onnodig om nog druk op hom/haar te sit met addisionele take. Kyk maar die stof op die vensterbanke mis en onthou dat jou kind nou nodig het dat jy ‘n anker in hul lewe moet wees.

Trek ‘n studie rooster op en help jou kind deur seker te maak hy/sy het ‘n gemaklike plek om te studeer. Wees beskikbaar om hulp te verleen indien nodig, maar moet ook nie te veel aan hulle karring nie. Onthou dat jou gedrag ‘n groot invloed op jou kind se gemoedstoestand het.

Herinner jou kind dat dit normaal is om angstig te voel gedurende ‘n eksamen. Die sleutel is om hierdie angs positief aan te wend. Luister na jou kind - om te praat verlig spanning.

Oefening kan help om jou kind se energievlakke ‘n hupstoot te gee. Dit verlig spanning en maak die gedagtes skoon. Julle kan selfs saam om die blok gaan stap en ‘n bietjie oor dinge gesels, dit kan dan sommer vir julle ‘n tydjie gee om oor dinge te gesels wat pla.

Moet nie ekstra druk op jou kind plaas nie. Ondersteun jou kind en vermy kritiek. Hou dinge in perspektief, want spanning laat klein probleme gewoonlik baie groter lyk as wat dit regtig is.

Hou jou kind gemotiveerd deur hom/haar te bederf met gereelde klein verrassinkies. Dit kan enigiets van ‘n gunsteling maaltyd tot ‘n nuwe naellak wees – jy ken jou kind en weet beter as enigiemand anders wat hulle nodig het.

Laastens – haal asem en ontspan in die wete dat skoolprestasie nie die belangrikste ding in die wêreld is nie. As jou kind goed voorberei het en hul beste gee is dit belangrik om hulle te prys maak nie saak wat die punte sê nie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube