News:
18 October 2013
Produktiwiteit het onder die kollig gekom tydens Dinsdagaand se munisipale tariewe vergadering in die ou Mogalakwena raadsaal. Die munisipaliteit het aangevoer dat 'n 10% salarisverhoging vir munisipale werkers nie deur die munisipale bestuur voorgestel is nie, maar dat dit is waarop vakbonde aangedring het.
Besigheidskamer voorsitter, Gerrit van der Veen, het gesê daar moet dan minstens 'n prestasie ooreenkoms aan gekoppel word.
Van der Veen het aanvanklik sy kommer uitgespreek oor die skerp aanpassings wat voorgestel is en gevra waarom dit soveel hoër as die inflasiekoers is.
Hy is die versekering gegee dat daar binnekort verrigtings ooreenkomste met munisipale werkers aangegaan sal word waar hulle dan kontraktueel tot ooreengekome vlakke van produktiwiteit gebind sal word.
Inwoners was ook omgekrap oor die lukrake manier waarop tariefverhogings aangevra word. "Waarom vra party departemente vir 6% verhogings en ander sommer vir 10%. Word die kostes ooit werklik gekwantifiseer of trek julle sommer 'n syfer uit 'n hoed uit?" wou plaaslike rekenmeester, Piet de Bruyn weet.
Ongelukkig was die munisipaliteit se hoof finansiële beampte nie daar om baie van De Bruyn se vrae te beantwoord nie.
Hy het navraag gedoen oor die oorverhaling van die vorige begroting wat nie in hierdie tarief bepalings in ag geneem is nie. Hy het daarop aangedring dat die hoof finansiële beampte se terugvoer op dié kwessies in die plaaslike koerant gepubliseer word.
Van der Veen het ook gesê die munisipaliteit moet ophou om die belange van smouse bo die van belastingbetalende besighede te plaas. "Besighede betaal duisende rande aan eiendomsbelasting terwyl die smouse wat hul winkelvensters versper en die sypaadjies voor besigheidspersele onbegaanbaar maak elk 'n skamele R77 per staanplek betaal. Wie maak 'n groter bydrae tot die munisipaliteit?"
De Bruyn het aanbeveel dat die munisipaliteit besighede 'n korting in hul tariewe gee tot die kwessie rondom smouse aangespreek is.
"Ons gaan nie hierdie voorgestelde tariefverhogings aanvaar sonder 'n behoorlike verduideliking van hom af nie," het De Bruyn gesê.