News:
06 May 2013
By Valerie Cilliers
Wilddiefstal het die afgelope paar maande in die Lephalale omgewing toegeneem. Volgens Francois Vorgers, operasionele bestuurder vir Molalatau Sekuriteit wat belas is met wilddiefstalondersoeke, wil dit voorkom of wild op privaatgrond al hoe meer geteiken word.
Hy meen die rede daarvoor is dat stropery in die Krugerwildtuin aansienlik afgeneem het en ook omdat stropers makliker teikens soek.
In die afguns-omgewing is ‘n Waterbok verlede Sondag vermoedelik op ‘n kort afstand van die pad se kant af geskiet. Die bok het met ‘n spoed tussen klippe ingehardloop en daar gevrek. In die omgewing van Stockpoort is ‘n trofee Koedoe wat sowat R13 000 werd is, ook verlede Sondag van die padse kant af geskiet. Theuns Pretorius, die eienaar, sê dit wil lyk of die Koedoe nie met die eerste skoot dadelik geval het nie. “Ons het hom gekry waar hy ‘n ent verder inmekaar gesak het,” vertel hy. Pretorius sê stropers is baie aktief in die omgewing en drade word sumier geknip om wild wat gejag is uit te sleep.