News:
28 November 2013
Bravo Jeug, ‘n organisasie wat skole in
Lephalale bystaan met berading vir leerders, het in 2004 die lig gesien toe ‘n onderwyseres by Hoërskool Ellisras geskok was oor wat sommige leerders op hulle banke skryf. Sy het besef dat daar 'n groot behoefte na jeugwerk en berading by skole bestaan.
Die hulp van Ds Jaco Strydom, wat Echo Youth in Pretoria begin het, is ingeroep en saam met ander belangstellendes is Bid Regtig Altyd vir Ons (Bravo) begin. Vandag bestaan die span uit Petro van der Walt (maatskaplike werker), Jolene Shepherd (jeugwerker), Helga Uys (opvoedkundige sielkundige), Annemie Kruger (sielkundige en traumatoloog) en Lucille du Toit (gemeenskap maatskaplike werker).
Aan die stuur van Bravo is n bestuurspan bestaande uit vrywilligers wat almal ander professionele beroepe beoefen maar vrywillig tyd afstaan vir Bravo.
Bravo Jeug bedien tans twee Laerskole en 'n Hoërskool deur middel van een-tot-een berading vir kinders wat getraumatiseer is of maatskaplike probleme het. As 'n nie-winsgewende organisasie maak die span staat op skenkings van die gemeenskap. Om Bravo Jeug in staat te stel om voor te gaan met berading in skole, het die instansie dringend geld nodig. Dit is na aanleiding hiervan dat die 1000 R100de vir Bravo projek onlangs die lig gesien het. Instansies en individue word gevra om R100de te skenk om te kyk of daar 1000 honderd rande ingesamel kan word.
Noordelike Nuus beoog om van tyd tot tyd ‘n grafiek te publiseer om te wys hoe die projek vorder. R100de kan inbetaal word by Nedbank, rekeningnaam: BRAVO Youth, takkode: 144547, Rekening nommer: 1445095157. Gebruik die woorde R100de projek as verwysing.
Vir inligting oor die projek en oor Bravo Jeug skakel Petro van der Walt by 083 321 2673 of stuur ‘n epos aan vanderwaltpetro@yahoo.com. Besoek ook www.bravo.org.za.