Sport:
27 September 2013
Met nog net twee weke oor voor die groot Cansa Debt Safe MTB Challenge is dit tyd vir Mokopane se sakelui om te wys hul harte klop warm vir die stryd teen kanker. Die fietsmarathon neem hierdie jaar die plek in van die jaarlikse Loop vir Hoop.
Die dag gaan nie net oor die fondse wat ingesamel word nie, maar is ook ‘n geleentheid vir die gemeenskap om hande te vat en sy kankerlyers en oorwinnaars te ondersteun en ook om stil te staan by die herinneringe van hulle wat die stryd verloor het.
Dit is ‘n geleentheid om lewe en lewensenergie te vier.
Vir diegene wat nie kans sien om een van die opwindende bergfietsroetes deur die Mokopane wildteelsentrum aan te pak nie, is daar die opsie om aan die Spin-a-thon deel te neem. En dit is hier waar die dorp se besighede hulle gewig agter die kanker stryd kan gooi deur mekaar in goeie gees die stryd aan te sê.
‘n Besigheid of individu kan ‘n spin fiets borg en dan ‘n bedrag aan Cansa skenk vir elke vyf minute wat iemand daardie fiets trap.
Personeel, hul vriende en familie kan dus deel word van ‘n besigheid se span en lekker gees bou terwyl hul die spin fiets laat sing.
Wat die bergfietswedren betref is daar drie opsies: ‘n 50km, 30km en 10km roete. Daar kan reeds vir hierdie wedrenne ingeskryf word by www.sacycling.co.za. Daar is ook ‘n ‘Kids Fun Scooter Race’ net vir die jongspan wat nog te klein is om op regte fietse te ry. Inskrywingsvorms hiervoor sal in volgende week se Noordelike Nuus beskikbaar wees.
Kontak vir Ingrid Janse Van Vuuren by 0861 100 999 ofingrid@debtsafe.co.za vir meer inligting rondom die Spin-a-thon.