<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kom speel ‘n paar putjies teen kanker

 
Sport : 09 Jul 2012 208 Viewed By Jasper Raats 0

SWARTWATER - SCC (Sanlam Cancer Challenge) by Swartwater Gholfklub vind op Saterdag, 27 Julie plaas. Die SCC word hierdie jaar vir die twintigste agtereenvolgende jaar aangebied en is die grootste amateur gholftoernooi in Afrika en spog met meer deelnemers as die jaarlikse Comrades Marathon en die Argus Fietstoer in die Wes-Kaap.
Meer as 40 000 spelers neem jaarliks deel aan die kompetisie. Dié SCC dag bied aan gholfers die geleentheid om aan die grootste gholffinaal op Sun City deel te neem, sou hulle deurdring. Die streeksfinale vind op 25 Augustus plaas by die Soutpansberg Gholfklub op Louis Trichardt.
“KANSA het die kompetisie oorspronklik in 1993 geiinisieër en elke vrywilliger, organisasie, borg, organiseerder en individu wat jaarliks by hierdie projek betrokke raak, se hulp word nie net opreg waardeer nie, maar dra by dat KANSA die stryd teen kanker, ook in die toekoms, kan voortsit. Die kompetisie bied ook aan plaaslike besighede fantastiese bemarkingspotensiaal en daarom word ondernemings aangemoedig om betrokke te raak by hierdie groot gebeurtenis,” sê me. Lucinda Viljoen, Gemeenskapsmobiliseerder van KANSA in Modimolle.
“As in ag geneem word dat huidige statistiek toon dat een uit vier persone in hierdie jaar, 2012 deur kanker geraak gaan word, en dat hierdie statistieke jaarliks aan die toeneem is, gee ons graag aan u die versekering dat KANSA daar is om in u lewe en die lewe van elkeen van u personeellede en familielede, ‘n verskil te maak. Ons lewer ons dienste gratis aan die gemeenskap en ons besoek terminale pasiënte aan-huis op ‘n gereelde basis. Ons bied ook graag aan u en u onderneming ons dienste in die vorm van gesondheidspraatjies en kliniek-dienste,” sê sy.
Geregistreerde klublede kan meeding in die SCC toernooi om deur te dring na die streeks- en finale en enige ander gholfspelers wat graag wil deelneem, kan om die dag se pryse, geborg deur Sanlam, meeding. Vir SCC besprekings, kontak  Willem de Kock by (015) 491 0376. Vir navrae oor borge, bel Lucinda Viljoen by tel 082 926 8077.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube