-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Elke jaar stuur die uitgetrede Majoor de Vos vir my ‘n spul foto’s van hom en sy ander oud-weermagpelle se vangste in Bloemhof Dam, en elke jaar hoop ek om die volgende keer saamgenooi te word.
Wel hierdie jaar was dit toe so en met groot opgewondenheid vertrek ek en 'n vriend, Francois (hy is ook vir die eerste keer genooi) al die Woensdagmiddag Pretoria toe waar ons by die uitgetrede Majoor, deesdae net bekend as Hein, gaan oorslaap.
Nie dat ek kon slaap nie. Bloemhof is bekend vir sy karp wat mens nie ruskans gee as hulle eers begin byt nie en vir babers so groot soos speenkallers!
By Bloemhof aangekom het ons ‘n ander ding leer ken waarvoor die dam bekend is: wind. Farao sou verseker die Israeliete met sambokke uit Egipte jaag as Moses dié wind as die eerste plaag voorgehou het. Verbeel jou jy sit bo op die bloutrein se dak terwyl die trein volspoed deur die Karoo jaag – so waai hy sonder ophou.
O, en amper vergeet ek – Sandveld Natuurreservaat is vernoem na die pragtige spierwit seesand wat later in elke holtetjie van jou lyf ingewaai word.
Dit alles was egter nie genoeg om Bloemhof se karpe terug te hou nie. Teen sononder het al ses die hengelaars in ons geselskap al iets in die hounette gehad. Die Broers van Centurion, Juan en Albert was loshande voor die res van ons en baie geheimsinnig oor hul aas en geurkombinasies.
Daardie aand het Moeder Natuur ons gewys hoe lyk dit as sy nou regtig omgekrap raak so ek en Francois was nogal bly toe ons die volgende oggend uit ons nat, sanderige lendelam oorblyfsels van ‘n tent kon kruip. Die wind het kalmeer tot ‘n bedagsame bries en die water het belowend teen die oewer geklots. Ek het die geleentheid gebruik om gou een van die vorige dag se graskarpies as aas op ‘n baberlyn die dieptes in te roei. Dit is glo die Bloemhofbabers se stapelvoedsel.
Terug op die ower begin ek en Francois kyk of ons kan uitpluis waarvoor die dam se karpe vandag lushet. Na ‘n paar eksperimente tref ons goud: FX op die voerbal en heuningfloaties laat die katrolle die een na die ander sing en partykeer sommer al vier gelyk. Nou is dit ons beurt om geheimsinnig te wees oor die suksesresep.
Laatoggend waai die wind weer asof dit sy laaste kans is en ons slaan oor na kaneelgeure op die bol. Ek vang ‘n mooi karp van 4 kg en tussen my en Francois het ons al ‘n sak vol karpe van tussen een en drie kilo’s.
En toe kreun die ou Penn Jigmaster. Eers ‘n stadige lopie, stilte, weer ‘n lopie, stilte en toe ‘n stadige wegtrek wat al vinniger word. Ek maak vas en voel sommer dadelik die ou platkop daar in die middel van die dam se gewig. Selfs met die hefboomkrag van die seevisstok is dit harde werk om die snorbek al die pad tot by die kant te spook.
Hy trek die skaal op 10kg, ‘n kleintjie vir Bloemhof, maar vir my ‘n nuwe persoonlike beste.
Daar en dan besluit ek wind se dinges en ek roei nog ‘n baberaas op die onstuimige varswaterseee in.
Intussen land Francois ‘n karp van 5 kg en ek besluit om ook karplyne in te roei in die hoop op iets groters en nog voordat ek behoorlik aan wal is, loop my een katrol. Dis ‘n mooi spieëlkarp van 5kg en ‘n uur of wat later spog ek met nog ‘n baber van net onder die 10kg.
Toe is ek pootuit. Die son, wind en twee aande se slapeloosheid het hul tol begin eis. Ek het by Hein onder die Gazebo gaan sit en kyk hoe sy skoonpa, Oom Dick, die wind trotseer om die een karp na die ander in te trek.
Daardie aand om die vuur wys Juan en Albert dat Bloemhof se karpe dag en nag sonder ophou byt en Hein brom omdat hy voel hy het nie soveel vis gevang as wat hy graag sou wou nie, tog is sy hounet propvol. Bloemhof maak glo so. Hy bederf ‘n mens.
- Jasper Raats
0 Comments