-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Jong, die visvang is maar vrot met al die riviere wat afgekom het, en as die Noordooster waai soos wat hy nou waai, mors jy eintlik jou tyd,” verduidelik die bruingebrande stuk gryskop sening my in Engels. Nie die Koningin se Engels nie – Suidkus Engels. Dis ‘n dialek wat wat mense glo van Port Edward tot net Noord van Umkomaas op die Natalse kus praat. ‘n Dialek wat moeilik by ‘n boerseun se ore wil in en dan langerig vat om in sy kop sin te maak.
Durban en ‘Toti’ se Engels is glo nog moeiliker.
Maar ek het genoeg verstaan van die omie by die duik en hengelgereiwinkel op Park Rynie om te weet ek moenie my tyd mors om van die rotse af vis te vang nie, so ek probeer to maar met hom gesels oor die kajakke wat hulle verkoop. Myne lê langs die tent in die karevaanpark waar ons tuisgaan. Ek het myself belowe hierdie Desember gaan ek daai kajak wys daar is goed met groter tande as Mokolo se krokodille en groter golwe as Bloemhof.
Oom Visvangwinkel sê iets en ek dink hy bedoel die plaaslike ouens lanseer hul kajakke so van vieruur elke ondend af by Scottburgh. Ek het vroeg in Desember reeds kontak gemaak met die Scottburgh Kajak Hengelklub so die omie bevestig net wat hulle my laat weet het.
Voordat ek die see kan invaar, moet ek eers ‘n paar dinge afhandel. Ek moet ‘n visvang lisensie gaan koop by die plaaslike poskantoor, ek moet ‘n stel potloodfakkels kry en my kajak se veiligheidstoerusting moet deur die plaaslike klub se veiligheidsbeampte nagegaan word voordat die klub dit onder hulle naam registreer.
Maar dit is Desember op die Natalse kus en om enige rompslomp deurgevoer te kry is nag.
So staan ek toe vir drie dae elke oggend so net na vier op Scottburgh en kyk hoe die ander manne die see in roei. Ek voel soos ‘n platsak kind wat op ‘n snikhete somersdag kyk hoe die roomyskarretjie wegry.
Na drie dae daarvan het ek genoeg gehad.
Die Scottburgh Kajak Hengelklub gaan my maar moet oorsien as ek sonder die nodige inspeksies die see invaar, want tien dae by die see hou net so lank.
En so is ek – kajak en al - op die oggend net na Kersdag daar. My senuwees knaag aan my terwyl ek langs my bakkie staan en oor die see uitkyk. “Gaan jy uit?” vra een van die ouens my in hulle snaakse Engels. ‘Ek oorweeg dit,’ mompel ek. “Wel, dit gaan nie beter as dit word nie,” sê hy terwyl hy in die see se rigting beduie.
Hy’s reg. Die golwe is dalk effe groot, maar dis windstil en die see is vir die eerste keer na die reën weer blou. Ek laai my kajak van die dak af en kry die visstokke reg voor ek alles in die luik bêre.
Ek begin my Kajak na die getyrivier (lagoon) se oewer toe sleep. Een van die Scottburgh Klub se ouens staan nader en help my die kajak teen die steil graswal afdra. Hy sien seker ek is effe senuweeagtig want hy praat my moed in en gee raad oor waar in die riviermond ek moet wag terwyl ek die golwe tel tot ‘n ‘stel’ kleiner branders kom.
Maar toe ek daar kom lyk dit of hulle almal groot. Na ‘n rukkie se gedobber neem ek my kans waar en ek trek weg. Ek wip gemaklik oor die eerste twee brandertjies. Roei, roei, roei – hier kom ‘n grote – plant my spaan diep in die skuim en beur vorentoe terwyl die see my agtertoe druk – spoeg water uit – roei, roei, roei.
O Blikemmer! Hier kom ‘n muur water! As ek ‘n branderplankryer was, was ek in die hemel. Maar ek is op ‘n kajak en sy neus kyk in die verkeerde rigting! Plaas ek net laat geslaap het vanoggend!
Ek wonder hoe dit vir die vissermanne op die rotse gelyk het, want die watertonnel het mooitjies oor my gaan staan en platval en vir ‘n rukkie het ek en my kajak heeltemal onder die souterige wasmasjienwater verdwyn.
Wonder bo wonder is ek nog op koers en roei ek vir al wat ek werd is om oor die volgende groot golf te wees voor hy begin breek – en die volgende een – en die volgende een. En toe besef ek, ek is anderkant die breekwater.
Ek kan maar rus. My asem jaag. Ek was laas so moeg... Nee, ek kan nie onthou wanneer ek laas so moeg was nie.
Na ‘n rukkie sien ek kans om weer te begin roei. Oos. Diepsee toe. Toe ek oor die haainette roei toe weet ek – seevisvang gaan vir my nooit weer dieselfde wees nie. Iets gebeur binne in ‘n mens wanneer jy van die oop see se kant af land toe kyk en dink: ‘Dis hulle kant van die haainette daai.’
0 Comments