<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Uithou en aanhou - die Sabie Xperience

 
Sport : 28 Jan 2013 102 Viewed By NoordNuus reporter 0

Terwyl baie van ons se kredietkaarte nog steier onder die gewig van restaurantetes, Kerspresente en seevakansies van verlede maand het ons hengelghoeroe, Christie Thomas, se lam bene genoegsaam herstel dat sy dit tot by haar rekenaar kon maak om vir Noordelike Nuus se lesers te skryf oof die wedervaringe op haar bergfiets tydens die onlangse Sabie Wedren in Mpumalanga.
Ek het gedink ek is nie bang nie. Ek het met trots gesê “waar een man gaan, kan ek ook gaan!” Totdat ek Dag 1 van die Sabie Experience aangepak het.  Daardie dag het ek geleer om ‘n ‘singletrack’, ‘n ‘drop-off’, en ‘n ‘down-hill’ te respekteer, en nooit selfvoldaan te wees VOORDAT ek weet wat voor my lê nie. ‘n ‘Drop-off’ van omtrent 3m teen ‘n 35% gradient, het my geleer om te vlieg! My voete is bo-oor my kop, ons is bo-oor die fiets se stuur, en toe kom die fiets se agterwiel agterna. 
Dag 2 se roete was effens laer gegradeer op die tegniese terrein, maar op hierdie 40km roete het ons ‘n totaal van 970 meter geklim!  Die sweet het getap en die oë het gebrand as jy nie vinnig genoeg weggevee het nie. Ek het begin vrees vir wat die volgende twee dae vir my inhou.  As die 35- en 40km so moeilik is, hoe gaan ek vaar met die twee 60’s wat binne ‘n sekere tyd afgelê moet word?
Die derde dag is die dag wat ek die ‘Mamba’ leer ken het! Die ‘Mamba Switchback’, is berug as die ergste optraande van die wedren, word so genoem omdat dit voel of ‘n mamba jou pik elke keer wanneer jou bene so erg begin brand dat jy voel jy kan nie verder nie. Hierdie ‘mamba’ pik drie keer! 1 560m om te klim is níe vir sissies nie! Hier is waar mens leer om reserwes op te diep wat jy nie eens geweet het bestaan nie.
Uit ‘n totaal van 62km van die vierde en laaste skof, het ons 40km geklim! 
Volgens Newton se wet moet dit wat opgaan, weer af! Die volle 1460m! Wanneer deel van die af bestaan uit ‘n pad gepak met ronde rivier klippies en sement, en oortrek is met groen gladde Sabie mos, enkel-spoor voetslaan paadjies teen 35% gradient, rotse, dennebome, en seepgladde afdraendes weens die vorige nag se reën, dan GAAN jy val, en MOET jy bang wees! Die laaste 20km was amper vir my erger as die eerste 40km. Die tyd loop uit, en party van die ‘single-tracks’ is so steil en glibberig dat ek genoodsaak is om af te hardloop/gly op my agterwêreld, fiets-en-al, tot op ‘n plek waar mens weer veilig, of semi-veilig, kan verder ry. Aanhou ry, aanhou stoot, asem jaag, modder- en bloed-besmeer van al die val....nog net 10km....die klok reg om te slaan na sewe uur op die pad...  Ek weet nie wat is ergernie; die seer van die val, jellie-bene van ooreising of die angs dat na ál die moeite en marteling, ‘n mens dalk nie betyds oor die eind-streep gaan kom nie?  Maar die angs het my gedryf om ALLES uit te haal wat ek nog oorgehad het, en met net 10 minute oor, het ons oor die eindstreep gery.  Die medalje hang om my nek, en ek dink aan myself, “vir díe klein stukkie yster, en die wete dat ‘n mens tot meer in staat is as wat jy besef, was dit alles die moeite werd!”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube