<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Die laaste somermaand...

 
Sport : 25 Mar 2013 111 Viewed By Christie Thomas 0

Om ‘n mens los te skeur van die werk af vir ‘n bietjie visvang is amper soos om onderdeur ‘n nat laken op Ouma se wasgoeddraad te probeer hardloop – die ding klou aan jou vel en wil jou nie laat los nie.
Maar kom ons belowe mekaar dat ons hierdie laaste stukkie somer nie met droë lyne sal deurgaan nie. Met lekker baie vakansiedae om die draai gaan ek nie toelaat dat die werk hierdie maand my visvangtyd steel nie. Soos my ou kollega Andries van Zyl daar by die Zoutpansberger altyd sê: “Visvang is nie ‘n saak van lewe en dood nie – dis baie belangriker!”
Met dit alles gesê is die vraag egter: Wat gaan ons teiken en waar? Die luiaard in my trek met so ‘n lang punt Vaalwater se kant toe waar mens hierdie tyd gemaklik ‘n hele sak vol swartbaars in amper enige van die hengeloordjies langs die Mogolrivier kan vang. Min van hulle is groter as ‘n kilogram, maar daar is darem min dinge lekkerder as om konstant swartbaars uit te trek – veral as jy kinders saam het. Pasop net vir die ou krokodille.
Miskien moet mens hierdie Paasgety tog ‘n bietjie meer moeite doen. Veral die ouens wat hulle gerei vir die winter gaan wegpak. Vir julle is dit nou die tyd om karp te gaan soek. Ek wil glo dat die oggendluggie wat nou effe koeler is, die ou groot karpe laat honger word. Dalk nog nie die trofeevisse wat mens in die hartjie van die winter aankeer nie, maar groter as die klomp Springbokkarpies waarvan almal sakke vol in die middel van die somer vang.
Springbokkarpies is nou daai tweepondvissies waarvoor mens Springbokkleure kry as jy ‘n groot genoeg sak vol gevang het. Dis hoe my vrinne in die georganiseerde hengel dit aan my beduie het. Ek self is maar te bly om enigiets te vang, groot of klein.
Nou sit ek hier en skryf myself lus vir Bloemhof! As die brandstof net ‘n rapsie goedkoper was...
Hier naby is als darem nie verlore nie. Die ouens wat weet sê hulle vang baie lekker karp hier in Arabie – deesdae Flag Boshielodam.
En vir die manne en vroue wat nog nie gereed is om hulle kurperstokkies te bêre nie is daar ook goeie nuus. Die ou mense het gesê mens vang kurpers in al die maande wat ‘n ‘r’ in hul name het – en die ou mense wéét. Hulle sou mos nie so oud geword het as hulle dom was nie.
Dit beteken daar is nog ‘n hele April vol kurperplesier oor, so hou die erdwurms nog so rukkie in die wurmboks.
Die ander vissie wat natuurlik fantasties oor ‘n Paasnaweek byt is die pragtige forel en met Haenertsburg hier in ons eie provinsie en Dullstroom redelik naby aan die Mpumalanga grens is daar geen rede om nie va-naand al te begin vlieë knoop nie.
So geagte lesers, ek is bevrees daar is ‘n kans dat die Noordelike Nuus vir die volgende week of twee effe laat op straat kan wees, dit hang net af hoe die vis byt.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube