-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Wanneer die Wêreld Oorplanting Somerspele einde Julie in Durban begin sal Tersia Smit (57) van Mokopane in die swembad haar slag wys.
Tersia het in 2005 ‘n skenkerlewer gekry nadat sy van jongs af kroniese lewerprobleme gehad het. Vandag lei sy ‘n normale lewe saam haar man, Ken en drie kinders op die plaas Moorddrift net buite Mokopane.
Die dankbaarheid dat sy ‘n tweede kans gekry het, maak dat sy haar daarvoor beywer om mense aan te moedig om orgaansken-
kers te word. Sy sê daar is ‘n reuse tekort aan orgaanskenkings en dit is belangrik dat mense moet weet hulle kan lewensredders wees vir so baie ander wat ook ‘n tweede kans soos sy kan kry.
Tersia gaan op 28 Julie aan die 19de Wêreld Oorplantings Somerspele in Durban deelneem. Dis die eerste keer dat die Spele in Afrika gehou word. Die Spele word elke tweede jaar gehou en van die ander items waaraan die deelnemers van 55 lande gaan deelneem, is onder meer atletiek, rolbal, gholf, vlugbal en fietsry.
Die eerste Wêreld Oorplanting Somerspele is in 1978 in Engeland gehou met 99 deelnemers van
Engeland, Frankryk, Duitsland, Griekeland en Amerika. Vanjaar sal meer as 2 500 atlete aan die Spele deelneem. Die jongste deelnemers is 4 jaar oud en die oudste 80 jaar.
Tersia het met die vorige Spele in Swede drie silwer medajes verower. Sy oefen drie keer ‘n week en gaan aan die 100m en 50m bors- en vry-slag, en die 50m rugslag deelneem.
Sy vertel sy en haar broer het van kleins af lewerprobleme gehad. Haar broer is oorlede omdat daar toe nog nie leweroorplantings in die land gedoen is nie. Op 3 Julie 2005 het een oproep haar hele lewe verander. “Ek was hondsiek, goudgeel, moeg en het moed opgegee toe ‘n geskikte skenker gevind is. Die skenker was ’n 16-jarige dogter wat breindood was. Volgens Wet mag ek nie weet wie sy was nie. Ek aanvaar dit so.”
Sy is net ná middernag by die teater van die Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg ingestoot. Ná ‘n 10-ure lange ope-rasie het sy ‘n nuwe lewer gehad. “Die lewer is ‘n komplekse orgaan. Dit moet binne twee ure oorgeplaas word, presies pas en die regte bloed-groep en grootte wees.”
Tersia meen te min mense weet hulle kan organe skenk. Die organe wat geskenk kan word, is die hart, lewer, pankreas, niere, longekorneas, hartkleppe vel en been. “Vandag weet ek wat dit beteken om ‘n kans te kry. ‘n Mens waardeer die lewe. Jy leef vir elke oomblik. Jy moet nooit moed opgee nie en positief bly. Elke dag is ‘n genade van bo.”
Dit kos niks om ‘n orgaanskenker te word nie. Die hospitaal of staat dek alle onkoste van die oomblik van breindood en as jou familie toestemming gegee het. Enigeen onder die ouderdom van 70 met goeie gesondheid en sonder enige teken van kanker, hepatitis, diabetes of Vigs kan ‘n skenker word.
Besoek die Organ Donor Foundation se webwerf by www.odf.org.za of bel 0800 226611 vir inligting.
0 Comments