-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Smit-gesin van Moorddrift Melkery buite Mokopane is ‘n geseënde kombinasie wat nie net ‘n suksesvolle onderneming bedryf nie, maar ook hulle kant op die sportveld bring.
Die hele Smit familie, Ouma June, Ken, Tersia, Stephen, Debbie en Cindy is onlangs bekroon met ‘n spesiale toekenning vir die eeu-oue plaas tydens die Mokopane Sakekamer se jaarlikse dinee. Ken se vrou, Tersia, het ook die toekenning as die Sportpersoon van die Jaar gekry.
Die familie sê die toekennings het hul albei onkant gevang. “Ons het dit glad nie verwag nie, maar is baie dankbaar vir die erkenning.”Tersia sê Penny Heyns was vir haar dié hoogtepunt van die hele aand, juis omdat sy haar nog altyd só bewonder het en dat Penny almal so positief kon inspireer.”
Ken se oupa Hendrik, het die plaas Moorddrift honderd jaar gelede gekoop. Hendrik was oorspronklik van Malmesbury in die Kaap. Hy was verantwoordelik vir die Kaapse geuwels in sy boustyl op die plaas.
Volgens Ken het sy oupa stalle opgerig en met resiesperde op die plaas geteel en later jare ‘n gemengde boerdery aan die gang gesit. Die melkery het eers in die vroeë dertigerjare tot stand gekom. Daardie jare is muile nog ingespan om die melk na die dorp te vervoer.
Ken en sy pa, William, het die melkery uitgebrei en vergroot. Vandag is Ken en sy seun, Stephen, vennote in die bedryf. Stephen is nou die vierde geslag op Moorddrift.
Tersia gaan van die 28 Julie tot 4 Augustus in Durban deelneem aan die Wêreld Oorplanting Somerspele. Sy het in 2005 ‘n skenkerlewer gekry nadat sy van jongs af met ‘n kroniese lewerpro-
bleem gesukkel het. As gevolg van Tersia se suksesvolle oorplanting en haar ongelooflike dankbaarheid teenoor haar Skepper, haar skenker en skenkerfamilie, beywer Tersia haar om mense bewus te maak van orgaanskenking. Sy moedig mense aan om ook te registreer as orgaanskenkers om sodoende meer kroniese siek mense te help.
Tersia het met die vorige Spele wat in Swede gehou is drie silwer medaljes verower. Sy gaan vanjaar weer aan die 100m en 50m bors- en vryslag, en die 50m rugslag deelneem. Die 4de Julie hierdie jaar het Tersia agt geleende geseënde ekstra jare bygekry - vir haar en haar familie ‘n blywende wonderwerk en dankbare genade van Bo.
0 Comments