<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

As jy nie meer kan knyp nie!

 
Sport : 04 Jul 2013 1562 Viewed By Christie Thomas 0

As beroepsatleet, joernalis, en kompetisie hengelaar word daar baie vrae in my rigting gestuur.  Soms word die vrae gevra tydens werkwinkels en seminare, soms om die braaivleisvure, in hengelwinkels, of langs die water.  Meeste van die vrae is gereedskap of tegniek georiënteerd, maar sommiges is sommer net ongemaklik.
Een van die mees gereelde vrae wat aan my gevra word is ietwat persoonlik, maar nietemin iets waaroor baie dames en mans wonder.  Ek het al geleer om nie sensitief oor die onderwerp te wees nie.  Dit is wel ‘n belangrike kwessie op die water, en beslis iets waarmee ek moes leer saamleef in ‘n mans-georiënteerde sport. En almal moet dit doen! Geen persoon, man of vrou, kan weg-skram van hierdie baie basiese liggaamsfunksie nie. 
“Hoe nou gemaak,” word aan my gevra, “as jy saam met ‘n vreemde man op die boot hengel, en jy het ‘n nood? Wat maak jy?”
Nou ja. Wat kan mens maak? As jy moet, dan moet jy! Maak nie saak waar jy is en wie saam op die boot is nie. En ek het nog altyd gevind die beste manier om ‘n sensitiewe situasie te benader is met humor.
Ek het al baie vir myself gelag op die boot, maar die dag wat ek die hardste gelag het was tydens ‘n internasionale hengeltoets tussen Suid-Afrika en die Zimbabwiërs, in Zimbabwe.  Ek en my spanmaat hengel op sy boot, ‘n baie spoggerige baarsboot, vaartbelyn en gebou vir spoed.
Met een voet op die voetstuk van die enjin, die ander voet op die boot, en ‘n handgreep weers-kante vir stabiliteit, kan ‘n dame gewoonlik met ‘n mate van waardigheid verligting vind terwyl ‘n bedagsame bootmaat anderpad kyk.
Dit verg nogal balans, maar met genoeg oefening raak dit makliker.
Ongelukkig het hierdie spesifieke boot ronde kante gehad en nie veel plek vir vasklou nie.
Voor ek my kon kry was ek binne-in die water, broek om die knieë, en redelik bekommerd oor die krokodille in die water. My spanmaat reageer soos dit ‘n ‘gentleman’ bekwaam en wil kom help, want dis amper onmoontlik om weer terug binne in die boot te kom sonder hulp. Maar hy moet maar bly waar hy is want ek moet eers aantrek, en ek giggel so baie dat ek myself amper versuip.
My spanmaat probeer sy bes om homself in te hou, maar hy kon nie anders as om saam te lag nie.
En so is ek al giggelend naderhand weer bo-op die boot. Dit het ons albei ‘n ruk geneem om weer op die visvang te konsentreer, want kort-kort begin ons weer van voor af lag. Gelukkig het ons die toets gewen!
Maar partykeer roep die natuur op die mees ongeleë tye.
‘n Vriend van my vertel van die keer toe hy gewens het daar was kleinhuisies op baarsbote. Dit het gebeur to hulle op die Vaal Rivier hengel.
Lesers wat die rivier ken sal weet dat hier nie veel plek is vir kant toe gaan en boomsoek nie. As daar nie ‘n spul deftige huise en hotelle is nie, is dit so toegegroei van die riete en wilgebome dat jy nie naby die wal kan kom nie.
Uiteindelik sien hy ‘n half-versteekte jetty tussen die riete uitsteek, maar toe hy daar afklim, sien hy dat baie van die sporte weg is en dat hy nie tot op die land gaan kom nie.
Vir omdraai en verder soek was dit egter te laat. “Hengel aan”, sê hy vir sy maat op die boot, “los my hier vir ‘n ruk, ek sal roep wanneer ek reg is.”
En daar, vasgekeer op die oorblyfsels van ‘n ou ‘n jetty, met bitter min wegkruipplek en geen toegang tot die wal nie, wens my vriend hy het iets gehad om te lees...
Dis juis toé dat die plesierboot vol mense en ‘n skieër op sleeptou daar verbykom. Om alles erger te maak val die skieër reg oorkant hom in die water en die boot moet omdraai om hom te kom help.
Al wat hy kon doen was om sy kêps laag oor sy oë te trek.
Die boot se passasiers het lekker gelag, maar gelukkig kon my vriend, heelwat later, darem ook die humor in die situasie sien en vir homself lag terwyl hy sy storie oorvertel. 
My raad aan almal wat al ‘n benoude oomblik op die water het.....leer om laaste te lag!!

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube