-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sy is dankbaar, opgewonde en slaggereed vir die Wêreld Oorplantingspele wat op 28 Julie in Durban begin, sê Tersia Smit van die plaas Moorddrift buite Mokopane.
Tersia (57) wat in 2005 ‘n skenkerlewer ontvang het, gaan dan haar slag in die 100m en 50m bors- en vryslag en die 50m rugslag wys. Sy het verlede week haar sportklere – groen en goud – ontvang waarin sy vir die Suid-Afrikaanse Nasionale-span gaaan deelneem.
Tersia oefen tans drie keer ‘n week in Polokwane, volg haar gesonde eetplan soos altyd en het reeds die groen lig van haar dokters gekry dat sy aan die Spele kan gaan deelneem.
“Die Spele is ‘n groot uitda-
ging. Dit is vir my belangrik om nou net gesond te bly en myself nie te ooreis nie. Ek gaan my bes gee en doen dit uit die dankbaarheid vir my skenkerlewer en die kans wat ek gekry het om te leef. Dit gaan alles om bewustheid vir orgaan-oorplanting te kweek, die lekkerte om te kan deelneem en om goeie vriendskappe met die deelnemers van ander lande op te bou.”
Die Spele word vanjaar vir die 19de keer gehou en die openingseremonie vind op 29 Julie in die Internasionale Konvensiesentrum in Durban plaas. Dit is die eerste keer dat die Spele in Afrika gehou word. Deelnemers van vier tot 80 jaar van lande regoor die wêreld gaan deelneem aan onder meer, atletiek, gholf, tennis, vlugbal en fietsry.
Tersia sal op 31 Julie en 1
Augustus in Kings Park se swembad meeding.
Haar man, Ken, twee dogters en seun sal langs die kant wees om haar te ondersteun.
Sy het met die vorige Spele wat in Swede gehou is, drie silwer medaljes verower. Tersia is ook onlangs aangewys as die Mokopane Sakekamer se Sportpersoonlikheid van die Jaar en kon tydens die geleentheid haar sportheld, Penny Heyns ontmoet (sien foto links).
Noordelike Nuus wens haar sterkte toe!
0 Comments