-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Tersia Smit van die plaas Moorddrift buite Mokopane het verlede week tydens die Wêreld Or-
gaanoorplanting Spele in Durban nie net ‘n goue medalje gewen in die 50m rugslag nie, maar ook vir ‘n nuwe wêreldrekord gesorg.
Tersia wat trots in die groen en goud geswem het, het ook drie silwer medaljes by haar trofeekas gevoeg. Sy was tweede in die 100m borsslag en ook in die 50m bors- en vryslag.
Tersia wat in 2005 ‘n skenkerlewer ontvang het, het na afloop van die Spele aan Noordelike Nuus gesê sy gee al die eer aan haar skenker en skenkerfamilie, haar man, Ken en haar hele familie. Haar gesin was deurgaans langs die Kings Park swembad om haar te ondersteun. “Ek het dit gedoen om dankie te sê vir die kans om te lewe. Dit gaan alles om bewustheid te kweek vir orgaanskenking. Wonderlike vriendskappe is ook hier gebou.”
Die Spele het op 29 Julie in Durban begin met ‘n kleurryke openingseremonie in die Internasionale Konvensiesentrum.
Meer as 2 000 atlete van 55 verskillende lande het teen mekaar te staan gekom in onder meer swem, atletiek, tennis, muurbal en gholf. Dit is vanjaar vir die 19de keer gehou en die eerste keer in die Afrika. Tersia vat nou eers ‘n blaaskansie en reis in die Oos-Kaap voor sy einde vandeesmaand huis toe kom.
Augustus is dit Orgaan-skenkingsmaand wat op ‘n hoë noot afgeskop het met die Wêreld Orgaanoorplanting Spele in Durban.
Volgens die orgaanskenkings-vereniging se statistieke is daar verlede jaar 573 orgaan- en kornea-oorplantings in die land gedoen. Altesame 254 mense se sig in hul oë is herstel deur kornea-oorplantings en 213 mense het nuwe niere gekry, terwyl 24 pasiënte se lewens gered is deur hartoorplantings, 8 deur longoorplantings en 28 deur leweroorplantings.
Dit kos niks om ‘n orgaanskenker te word nie en vat net ‘n paar minute om te registreer. Bel die Orgaanskenkingvereniging tolvry by 0800 22 6611 of registreer aanlyn by www.odf.org.za
0 Comments