-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sune Janse van Rensburg (15) het die Mokopane Gimnastiekklub (MGK) se naam hoog gehou toe sy verlede naweek as algehele wenner in die o/15-afdeling van die ritmiese gimnastiek-streekkampioenskappe in Eldoraigne, Centurion deelgeneem het teen gimnaste van Limpopo en Gauteng.
Sune, ‘n vlak 4 ritmiese gimnas, het drie goue medaljes, een silwer en een brons verwerf met haar eerste plekke vir haar bal- en hoepel roetines, tweede plek vir dans en derde plek met die tou-roetine. Sy sal ook op 21 September Limpopo verteenwoordig in die nasionale gimnastiek kompetisie in Durban.
Ritmiese gimnastiek verskil van artistiese gimastiek (gebruik van apparate) in die sin dat gimnaste gebruik maak van verskeie hulpmiddels soos balle, kegels, hoepels, springtoue en linte. Hulle voer dan elegante bewegings uit op die maat van musiek.
Sune se ma, Daleen, is baie trots op haar dogter se prestasie en noem dat gimnastiek as sport ‘n belangrike rol gespeel in die vorming van karakter in beide haar dogters (sussie Lize neem deel aan artistiese gimnastiek by MGK).
“In verskeie sportsoorte verwerf atlete dikwels ‘n goeie reputasie as gevolg van hulle prestasies, maar ‘n sterk karakter ontbreek dikwels, verduidelik Daleen. “Ons kan sien hoe die gimnaste by MGC se karakter gebou word.”
Daleen en Sune bedank ook spesifiek die waardevolle insette van MGK se afrigters Marinda en Richard Marshall en hul assistente. “Hulle het beide ‘n merkwaardige vermoë om karakter in hul gimnaste te bou en is puik afrigters in die sport!”
Sune hoop om haar gimnastiek loopbaan voort te sit totdat sy klaar is met hoërskool en hoop om eendag te kan help met die opleiding van ander gimnaste. - Helena Raats (helena@noordnuus.co.za)
0 Comments