-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Bosveld Wedrenklub in Mokopane het motorwedren geesdriftiges verlede Saterdag op die rante van hul pawiljoen bankies gehad toe plaaslike jaers teen lede van klubs in Polokwane en Pretoria meegeding het.
In die Pinto’s klas het Jackie Daniel van Mokopane derde geëindig teen twee jaers van Pretoria, Jacques Maree en Pieter van Staden.
Onder die 2-liters was dit Henco Botes wat ‘n tweede plek vir die plaaslike manne verseker het. Dié klas is gewen deur Roelof van Breda van Polokwane.
Joseph Bothma het die Bosvelders se naam hoog gehou toe hy die Stock Rods kompetisie gewen het met Gideon van Breda en Willem Bouwer van Polokwane tweede. In die 1660 klas het Ruan Maree van Pretoria met die louere weggestap, maar Fredrick Cooper het die tweede plek opgeraap. Sybrand Thysse van Polokwane was derde.
Asof die opwinding van skreeuende bande en
dreunende enjins nie genoeg was nie, het die wedrenorganiseerder ook twee gelukstrekkings aangebied. Die eerste wenner was Annelie Smit. Sy het ‘n battery geborg deur Duratec Mokopane gewen. Die tweede gelukkige wenner, Koos Viljoen van Polokwane, het die kans gekry om saam met Fred Cooper te "drift".
Die klub bedank toeskouers vir hul volgehoue en lojale ondersteuning teenoor die sport. “Baie dankie aan Potties se drywers wat hard werk aan hul motors, asook drywers van Pietersburg en Pretoria wat die klub ondersteun deur aan die sport te kom deelneem in Potties,” het Karien Ruytenberg van die Bosveld Wedrenklub die week gesê.
Sy het ook die klub se dank uitgespreek teenoor die ander borge en ook Mogalakwena Platinum Myn wat die ambulans en mediese bystand voorsien.
Donderdagaand, 24 Oktober om 18:00 hou die klub weer vergadering by die klubhuis op die skougronde. Daar sal dan ook besluit word oor die volgende wedrendatum in November. Enige iemand wat belangstel om betrokke te raak by die sport of klub is baie welkom. Skakel gerus vir Louis by 082 804 3483 of Fred by 083 444 6615.
0 Comments