<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘n Voorliefde vir snorbekke!

 
Jan-Barend Kruger met sy vangs
Sport : 01 Nov 2013 1706 Viewed By Jasper Raats 0

Nico en Jan-Barend is ligte gerei boot hengelaars en die babervangery is amper elke naweek se storie. Party naweke vir kompetisies, ander kere sommer net omdat hulle versot is op baber hengel.
“As dit by brute krag kom is daar eenvoudig geen varswatervis wat by ‘n baber kan kers vashou nie,” gesels Nico. “Om tiervis te vang is lekker, maar hoe gereeld vang mens tiervisse van tussen 10 en 15kg? Daar swem sulke babers en groteres in byna al ons damme rond en enigiemand staan ‘n kans om een van hulle te vang.”
Hy gee gelyk dat dit nie ewe maklik is om groot babers in alle damme en riviere te vang nie.
Hy sê vir hom is daar in die binneland min damme wat by Arabie, Loskop en Bloemhof kan kers vashou as dit by babers kom.
Arabiedam staan deesdae bekend as Flag Boshielo Dam, maar dit is net die burgemeester van Marble Hall wat weet waarvan mens praat as jy die dam so noem.
Dit is hier waar die Kruger pa en seun die meeste van hul hengeltyd spandeer. Hulle ken dié dam. Maar Nico sê die basiese beginsels vir baber hengel bly maar oral dieselfde.

Maak voerplek
“Jy moet ‘n stuk plat, skoon bodem soek en die babers na jou toe lok.” Hy verduidelik dat babers as ‘n reël naby struktuur hou. Hulle is lief vir bome wat in die water staan, veral as daar voëlneste in die water is.
“Maar daar gaan jy die grotes verloor. Dis in daai goed se genetika om in struktuur in te wil voeter die oomblik wat hulle ‘n hoek in die bek voel.”
Die reëls van georganiseerde ligte gerei boothengel laat nie sterker as 4kg vislyn toe nie, so om weghol visse met stewige visstokke en dik lyn uit struktuur te hou is nie ‘n opsie nie.
“So leer hoe om die beeld op jou sonar vis opspoorder te interpreteer en kry ‘n stuk bodem sonder onderwater bome en stompe of groot rotse wat rondlê en lok die vis dan soontoe,” beveel Nico aan.
Die Krugers neem voerplekmakery ernstig op. Al wat slaghuis in Naboomspruit is weet al om al die vleissaagsels vir hulle te bêre . Hulle koop ook dooie kuikens by hoenderplase op.
‘n Dag voor hulle begin hengel gaan gooi hulle ‘n Rumuvite voerblok en so ‘n emmer gekookte mielies en gemaalde kuikens by hulle gekose hengelplek in die water.
Die dag wat hulle vang word daar kort-kort nog ‘n paar skopgrafies van die vleis saagsels in die water gegooi.
Hulle trek ook nie hul neuse op vir vleis voer wat so ‘n paar dae in toe emmers in die son gestaan het nie. “Hoe vrotter hoe beter,” sê Nico as hy oor baber lokaas praat. “’n Mens moet maar jou asem ophou terwyl die emmer oop is.”
Hy sê dit gebeur soms dat een van hulle effe “seesiek” word van die lokaas, maar meen dis alles die moeite werd as die een groot baber na die ander daar om die boot begin draai.

Kyk na omstandighede
Soos meeste roofvisse is Babers vroeg-oggend en laatmiddag meer aktief as in die hitte van die dag. Hulle wei ook snags, maar min damme laat boothengelaars snags op die water toe. Dit is dan wat hulle in vlakker water kom rondsnuffel en oewerhengelaars die ou grotes kan aankeer.
Hoewel hulle babers met redelike sukses in die wintermaande vang, sê Nico die babers raak eers werklik aktief wanneer die water warmer as 22oc word. En, sê hy, die wind is jou vriend. “As die wind waai byt die vis.”
Hy beveel ook aan dat enige ernstige hengelaar in ‘n barometer belê. Hou die lugdruk dop. Vis sal byt solank dit konstant bly of styg, maar die oomblik wat die lugdruk daal, kan jy maar huis toe gaan.
Nico sê selfs sy Koi in die dammetjie voor sy huis gaan lê net op die bodem sodra die lugdruk daal. 

Eindgerei
Aan hulle hoeke gebruik die Krugers dooie dag-oud kuikens. Elkeen het sy eie voorkeur. Jan-Barend gebruik ‘n ligte veerkragtige hoek wat baie aan die ou skelmhoeke of Van der Merwe-hoeke herinner. Sy teorie is dat die hoek se veerkragtigheid help om die dun lyn waarmee hul hengel te beskerm.
Nico verkies weer ‘n stewige sirkel hoek. Hy sê hy hou daarvan dat hierdie hoeke altyd in die hoek van die vis se bek gaan vashaak. ‘n Mens hoef nooit bang te wees jy gaan ‘n hoek in die vinger kry as jy jou hand in die vis se bek steek om hom uit die skepnet te tel nie, verduidelik hy.
Soos die meeste kompeterende hengelaars glo Nico en Jan-Barend ‘n groot deel van hul sukses lê daarin dat hulle die gepaste stroppe vir verskillende hengel toestande gebruik. By Loskopdam gebruik hulle die klassieke ou baber strop wat bestaan uit ‘n hoek wat onder aan ‘n voorlsag hang wat deur ‘n draai spilletjie van die glysinker oor die hooflyn af weggehou word.
In Arabiedam gebruik hulle ‘n gewone Vaaldamstrop met net een hoek aan.
“In kompetisies gebruik ons ‘n hoeklyn van so 9k breekkrag, maar as ons vir ons eie plesier trofeebabers gaan jag, gebruik ons 9kg hooflyne en sal ons ‘n staalstrop soos die seehengelaars gebruik om seker te maak die ou grotes se rasperbekke skuur nie ons lyne af nie.”

Hulle speelgoed
Nico sê hulle het nou al allerhande soorte gerei op die proef gestel en kan heelhartig saamstem met die edik dat hengelgerei hoofsaaklik ontwerp word om hengelaars te vang. Hulle het eindelik gestandaardiseer op Okuma se groot ‘bait runner’ katrolle en 9ft mediumswaar grafiet stokke. “Dis belangrik dat die stokke genoeg krag in hul handvatsel gedeelte het om die vis uit die water te lig. Vir die hengelaar wat sy begroting moet dophou is daar min stokke wat Jarvis Walker se Gully master gaan klop. Sensation en Elbe bied ook goeie waarde vir geld.”
Hy sê die grootste deel van hulle sukses lê daarin dat hulle nie sommer ‘n geleentheid om vis te vang laat verbygaan nie. “Die perfekte aas en beste toerusting beteken niks as dit nie gebruik word nie. ‘n Handlyn in die water is meer werd as die beste gerei in jou motorhuis.”

 

 

 
 

Nico Kruger met sy vangs. Hoewel babers warmer water verkies is hierdie bielies in die wintermaande gevang.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube