-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Sportman Amateur Posduifklub (SAP) op Mokopane se klubkampioen vir 2014 is Tiaan Marais.
Hy en ander lede van die klub wat trofeë verower het, is met die klub se prysuitdeling verlede naweek vereer. Dit is die eerste keer wat Tiaan daarin kon slaag om as klubkampioen gekroon te word. Hy is ook iemand wat reeds sedert sy kinderdae aan die wedvlugduiwesport deelneem.
Met die prysuitdeling het die klub se voorsitter, Barend van Biljon onder meer die bedankings gedoen. Hy het ’n spesiaal dank betuig teenoor ’n mede klublid, Johan van Zyl wat harde werk aan die dag gelê het om trofeë vir die klub se prysuitdeling beskikbaar te hê.
Barend het ook spesiaal Piet Stickers op die dorp bedank vir die borg van die klub se naambord wat by hulle klubhuis in die industriële gebied opgerig word. Die klub bedank Piet Stickers ook vir die borg van die plaatjies op die klub se trofeë.
Die klub het deur die jaar ook kaartjies verkoop waar ’n gelukkige persoon na ’n trekking R1,000 kon wen. Die trekking is met die prysuitdeling gehou en die wenner van die R1,000 is Josephine Mpyapona.
Die finale puntetotaal van die klublede is: 1ste. Tiaan Marais – 788, 2de. Johan van Zyl – 749, 3de. Barend van Biljon – 452, 4de. Louis Rossouw – 419, 5de. Dewald Viljoen – 367, 6de. Fanie Viljoen – 335, 7de. Engelbrecht Hokke – 187 en 8ste. Van Rooyen Hokke - 7.
SAP is deel van die Ysterberg Spesialiste Combine (YSC) wat die oorkoepelende moederliggaam van agt klubs in Limpopo provinsie en een in Mpumalanga provinsie is. Op die YSC se punteleer het Tiaan Marais die beste van SAP gevaar deur die algeheel negende plek in te neem.
Dan vlieg die klub ook in streek verband. Hulle is deel van die Noordstreek wat uit SAP, Potgietersrus Posduifklub en Pietersburgklub bestaan. Tiaan is ook vanjaar die streekkampioen met ’n totaal van 1,481 punte. Tweede in die streek is ook ’n SAP-lid, Johan van Zyl met 1,364 punte.
Van die 36 wedvlugte waaraan die klub vanjaar deelgeneem het, het Tiaan Marais en Johan van Zyl elkeen 13 gewen. Barend van Biljon spog met ses eerste plekke, Dewald Viljoen met twee, terwyl Fanie Viljoen en Louis Rossouw elk een vlug gewen het.
Die trofeë wat die lede ontvang het, is:
Tiaan Marais:
Jaaroudduif met meeste punte in die jaaroudreeks. Lid met die meeste punte in opereeks. Duif met die meeste punte in die opereeks. Lid met die hoogste gemiddelde spoed in die mannetjie-en wyfiekampioenskap. Wenner van die enige ouderdomkampioenskap. Wenner van die mannetjiekampioenskap. Wenner van die wyfiekampioenskap. Wenner van die nominasiekampioenskap. Kortafstandkampioen. Lid met die meeste punte in die YSC. Sportman van die jaar en klubkampioen.
Johan van Zyl:
Lid met die meeste punte in die jaaroudreeks. Wenner van enige vlug verder as 800km met die stadigste wenspoed. Wenner van die Britstownvlug. Wenner van die derbyvlug. Wenner van die keurvlug. Wenner van die jaaroudkampioenskap en middelafstandkampioen.
Barend van Biljon:
Wenner van die Olifantshoekvlug. Wenner van die Richmond 1 vlug. Wenner van die Richmond 2 vlug. Wenner van die tweejaaroudkampioenskap en langafstandkampioen.
Fanie Viljoen:
Wenner van die jongduifreeks.
Dewald Viljoen:
Positiefste nuweling.
Van Rooyen Hokke (pa Derik en seun JJ):
Moedigste beginner.
0 Comments