<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

’n Passie vir gimnastiek

 
Sport : 05 Oct 2015 680 Viewed By Helena Raats 0

SWARTWATER – Yolande Vos is ’n baie bekende gesig in die Bosveld, daar waar sy woeker as beroepsjagter, Bua Nnete lodge bestuurder, sjef, kunstenaar en eggenoot vir haar man, Gerhard Vos, of by die Swartwater Gimnastiekklub waar sy verskeie gim-naste met Limpopo- en selfs SA-kleure afrig.
Yolande het as kleuter begin met gimnastiek en is self ‘n Suid-Afrikaanse gimnastiek kampioen. “Ek was so lief vir die sport dat ek vakansies saam met my gesin opgegee het om gimnastiek oefenkampe by te woon,” vertel die ma van drie, wat elke dag 35km ry na die gimnastieksaal om kinders van Swartwater af te rig. “My ouers het my as kind 100% ondersteun en ons het duisende kilometers gery om aan kompetisies deel te neem.”
“Ek het van kleins af geleer dat harde werk beloon word, en dat jy verantwoordelik is vir jou eie sukses,” vertel sy. “Gimnastiek het my as persoon ontwikkel en die selfvertroue gegee om as individu te funksioneer.”
So het Yolande op skool agt keer Limpopo (toe Verre Noord) en selfs Vrystaat kleure verwerf. Sy het ook ’n paar keer die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen. So ernstig was sy oor haar gimnastiek dat sy in 1993 as Graad 12 leerder aan Hoërskool Ellisras haar eerste Gimnastiekklub begin het. “Ek het op die skool se leerlingraad gedien, matriek geskryf en tyd gemaak om tussen-deur gimnastiek af te rig!”
In 2011 was daar ’n satelliettak van die gewilde Zanis Gimnastiekklub gestig, maar die klub was slegs ’n jaar op die been toe die afrigter stad toe trek. “My eie dogter, Chere-Lee is ’n belowende gimnas en ek het besluit om in 2012 my eie klub te stig sodat ek my dogter kon afrig. “Nou bevind ek my kniediep in die gimnastiek met sowat 70 gimnaste tussen die ouderdom van drie en 13 jaar!”
Die Gimnastiekklub word bedryf uit die ou studiesaal van Laerskool Unitas in Swartwater. Die laerskool gimnaste is almal skoliere van die skool en die kleuter gimnaste kom almal van Snipper Snuiters Kleuterskool af, wat ook op die skoolterrein is. Sy verduidelik dat waar ander groter klubs toegang het tot groot oefen areas, is dié klub se spasie beperk, maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg, lag sy. “Ons oefensaal is baie klein – ons kan slegs een item op ’n slag oefen – as ons brug oefen kan niemand iets anders oefen nie.”
“Die eetsaal van die koshuis word ook gebruik vir ons gimnaste om vloer te oefen,” sê Yolande. “Ons beplanning moet 100% wees om tussen etenstye by die koshuis die gimnastiek oefening in te werk!”
Die klub bestaan tans uit twee afrigters, Yolande self en Linny Roux wat as lojale regterhand en hulpafrigter optree.
“Ons het in 2013 aan kompetisies begin deelneem en het met van die kompetisies tot 40 medaljes huis toe gebring tussen 15 gimnaste.”
Die klub bied tans vlak 1-4 gimnastiek aan, maar sal volgende jaar ook vlak 5 aanbied soos die gimnaste se vaardighede verbeter. “Ons het vinnig gevorder en is baie trots daarop om 24 gimnaste in die Limpopo-span te hê.”
Die klub staan beslis vir geen ander klub terug nie en spog ook met drie gekwalifiseerde beoordelaars (Aldea Jones, Sunel van Blerk en Linny Roux) wat hulle uitstekend van hulle taak kwyt en sekermaak dat die standaard gehandhaaf word. Sy moedig ouers van gimnaste in Limpopo aan om die beoordelaarskursusse by te woon. “Ouers is die beste kandidate vir hierdie taak, dit help baie wanneer ons as afrigters die insae van beoordelaars in ons klubs het!”
Yolande is opgewonde oor gimnastiek se toekoms in Suid Afrika, maar voel dat "ons as afrigters nog baie het om te leer." Limpopo se gimnaste hoef vir geen ander provinsies terug te staan nie. Die Suid-Afrikaanse senior gimnastiek kampioenskappe vind van 7 tot 10 Oktober (vlak 4 en op) plaas in Gauteng en Swartwater het vier gimnaste wat gaan deelneem.
Sy haal die skrywer Myles Munroe aan en verduidelik dat jou talent die gereedskap is waarmee God jou toegerus het toe hy jou geskape het. “Dit is die ‘gereedskap’ wat ek gebruik om in kinders se lewens te belê,” beaam sy. “My prioriteit lê by die ideale van elke kind in my klub, nie by my besigheid nie.”
“Ek het ’n plan vir elke kind en sal agteroorbuig om hom of haar daar te kry – of dit nou by die SA kampioenskappe is of om genoeg selfvertroue te ontwikkel om as individu aan ’n kompetisie deel te neem.”
Vir Yolande is die mees bevredigende deel van afrigter wees is om ’n kind se trotse tevredenheid te sien wanneer hy of sy ’n kompetisie voltooi het en te sien hoe hulle in hulself en hul vermoëns begin glo. “Hierdie plaaskinders met hulle kaal voete en vuil gesiggies het baie diep in my hart gekruip. Hulle is ongelooflike kinders wat nie terugstaan vir harde werk nie. Hulle waardeer elke dingetjie wat ek vir hulle leer en raak opgewonde oor nuwe reekse en bewegings wat letterlik soos berge voor hulle lê.”
“Ek dank die Here vir die talent wat hy my gegee het om die kinders te kan leer en ’n verskil in hulle lewens te kan maak,” sê Yolande. “Dankie ook vir die ouers wat sulke fantastiese lojale mense is - ek kan dit nie alleen doen sonder hulle ondersteuning nie.”  
 Hier is ’n paar woorde van haar gimnaste wat dit vir haar die moeite werd maak:
“Tannie, ek het nie gedink ek sal dit kan doen nie. Dankie dat tannie my geleer het,” Carike Nel”.  
“Coach, ek is nog nie moeg nie, kan ek nog net ‘one time’ probeer,” - Nick Jones
“Ek kry alweer niks reg vandag nie.  Help my!” - Leane Botha
“Tannie, my vrou moet eendag soos tannie lyk,” Stefanus Malan

 

 

 

 
 

Swartwater gimnaste gaan SA’s toe

SWARTWATER – Vier dogters van die Swartwater Gimnastiekklub sal volgende week aan die Suid-Afrikaanse Gimnastiek kampioenskappe by die Matsport Centre in Eldoraigne Park in Pretoria gaan deelneem. Die meisies is almal vlak 4 gimnaste, hulle is Chere-Leë Vos, Zane Roux, Elnichea Ferreira en Shane Botha.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube