-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Loutjie Steenekamp, ‘n leerder aan Hoërskool Ellisras, is skaars 17-jaar oud maar hy is reeds besig om groot naam te maak in die atletiekwêreld. Hy is onlangs vir die tweede keer genooi om aan ‘n atletiekbyeenkoms in die VSA te gaan deelneem.
“Ek is vroeër die jaar genooi om in Philadelphia te gaan deelneem nadat talentsoekers my by ‘n byeenkoms in Pretoria sien deelneem het aan die 110m hekkies,” vertel ‘n baie opgewonde Loutjie Woensdagmiddag aan Noordelike Nuus.
Loutjie het in Philadelphia aan die o/19-afdeling deelgeneem en 19de plek behaal. “Daar was bekende atlete by die byeenkoms en ek het geweldig baie by hulle geleer. Toe ons op pad terug was na SA het een van die afrigters my laat weet dat daar ‘n universiteit is wat my wou nooi vir nog ‘n byeenkoms.”
So het Loutjie skouer aan die wiel gesit en begin oefen vir die byeenkoms wat op 17-19 Junie in Noord Carolina sal plaasvind. “Ek oefen elke aand saam met my afrigter Jan Vos by die Mogol Klub en oefen ook tussen 16:00 en 17:00 elke dag op my eie om gereed te maak vir die byeenkoms.”
Alhoewel Loutjie se groot liefde by sy atletiek lê probeer hy ook aandag aan sy skoolwerk te gee. “Ek het ‘n drukbesige program maar probeer om ‘n balans tussen my skoolwerk en die atletiek te handhaaf," sê hy. "My groot droom is om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem.”
Vir enige skoolkind is dit ‘n groot eer om twee keer genooi te word om oorsee aan ‘n atletiekbyeenkoms deel te neem, maar die finansiële implikasies daaraan verbonde is ‘n groot kopseer. “Ek het met my vorige besoek omtrent R30 000 nodig gehad.”
“Ons is dankbaar teenoor almal wat met die vorige byeen-koms ‘n bydrae gemaak het en hoop dat ons weer soveel ondersteuning hierdie keer sal ontvang,” het Loutjie se ma, Allen Steenekamp, gesê.
Wie weet dalk finansier jy die volgende Olimpiese Spele kampioen! Donasies kan gemaak word aan: PIL Steenekamp, Absa rekening nommer: 9316484082, takkode: 632005.
0 Comments